In die Noordelike Provinsie is daar heelwat bosluis uitdagings. Naas bloubosluise, is daar veral bruinoorbosluise, bontpootbosluise, en bontbosluise wat van ekonomiese en veeartsenykundige belang is. Hierdie bosluise word in 1-gasheer, 2-gasheer en 3-gasheerbosluise opgedeel met vreeslike name wat aan elkeen gegee sal word.
Een van die boere in die Naboomspruit se omgewing wat deel van die studie is, is Wynand Coetzee. Wynand het beesboerdery al ‘n keer of wat opgegee omdat hy nie bosluise in die gebied kon bestuur nie. Hy is ook ‘n produsent wat sowat 40-46 keer ‘n jaar gedip het.
Wynand het verlede jaar in November by die studie aangesluit en reeds is daar positiewe resultate. Hy staan tans op sy 3de of 4de dip vir vanjaar. Wynand se grootste vyand, naas bloubosluise, was bruinoorbosluise, wat sy diere se ore afgevreet het.
Nadat Wynand se aanvanklike weerstandigheidstoets gedoen is en dit binne ‘n Strategiese Geïntegreerde Parasietbeheer Model uniek verwerk is, uniek tot sy plaas, is daar begin om sy diere met dipstowwe te behandel wat sy gemete weerstandigheidsvlakke teen die aktiewe verhoed het.
Die SIPB Model raai nie. Dit wonder nie oor die chemiese aktiewe nie. Dit is getroud met die wetenskap en dit is resultaatgedrewe. Geen enkele Dieregesondheidsmaatskappy het al die produkte om ‘n enkele produsent se uitdagings te oorkom nie.
Die SIPB-Model is ‘n model wat wild- en beesprodusente help om minimaal te dip, weerstandigheid teen dipstowwe af te breek, bosluise aktief te verminder wanneer dipstowwe gebruik word en dan die natuur teen die bosluis se lewensiklus te gebruik om hul voortplanting te verhoed.
Wynand het op hede 3 maande laas gedip. Hy het vir ongeveer 100 dae geen bloubosluis en geen bruinoorbosluis van enige aard op sy diere gehad nie. Indien u dit wil bevestig kan u hom kontak by 0147430569.
Om die probleem aan te spreek moet die raadgewer bosluisgroepe en hul siektes ken, hul lewensiklusse verstaan, al hul onderskeie gashere en die aktiewe wat hul effektief kan uitskakel. Dan bly daar net twee aspekte oor, naamlik ‘n produsent wat se houding die wetenskap respekteer en deel word van die “meet en toets” en om dipstof sodanig binne die lewensiklus aan te wend dat die bosluis verhoed word om geslagsryp te word.
Vir meer inligting aangaande die onderwerp kan u die skrywer van hierdie reeks artikels, Pierre van Niekerk by pierrevn@telkomsa.net kontak

