
Altesaam tien watertenks en ‘n boosterpomp word sowat 7,5km van Rooiberg geïnstalleer op die Rooiberg pyplyn.
ROOIBERG – Daar word fluks vordering gemaak met die afrondingswerk op die Rooiberg pyplyn.
Inwoners van Rooiberg is vol hoop dat hulle uiteindelik, na daar sowat 5 jaar gelede met die eerste fase van die pyplyn begin is, sal water kry van boorgate in die Sandriviervallei, sowat 25 km van Rooiberg.
Baie het verkeerd gegaan sedert die projek begin is en baie geld is gemors. Van die probleme wat ondervind was, is kontrakteurs wat bankrot gespeel het, pype wat nie volgens spesifikasies geïnstalleer is nie en ‘n reservoir wat gebou is, maar nooit gebruik kon word nie.
Voorlopige toetse destyds het baie foute uitgewys. Tot dusver is geen bevredigende antwoorde verskaf waarom hierdie proses nie beter deur die Thabazimbiese Munisipaliteit bestuur is nie.
Daar is egter vroeër vanjaar ‘n kontrakteur aangestel wat ‘n boosterpomp en watertenks sowat 7,5km van Rooiberg sou installeer. Die onvoltooide werk aan die pyplyn soos behoorlike mangate, die installering van kleppe en die opvulling van die sloot, moes ook gedoen word.
Daar word tans fluks gevorder met hierdie werk. Vyf van die tien 10 000 liter tenks is reeds opgestel. ‘n Aantal koppelings moet nog gedoen word en nog vyf watertenks opgestel word. Hierna sal die lyn getoets word.
Volgens Philip Nel, voorsitter van die Rooiberg Huiseienaarsvereniging is die mense van Rooiberg vol hoop dat hul waterprobleme eersdaags van die verlede sal wees.
Hennie Pauw

