Snaaks genoeg is prys die laaste ding waaraan die meeste huisverkopers dink wanneer hulle eiendom geen aanbiedings lok nie – al is hulle self baie prysbewus wanneer hulle na ‘n huis soek om te koop.
Dit blyk duidelik uit die jongste statistiek van Eerste Nasionale Bank, wat toon dat 80% van verkopers steeds die prys wat hulle vra moet verlaag om ‘n transaksie te kan beklink. “En die gemiddelde verlaging is sowat 12%, wat beteken dat die meeste verkopers regtig uit pas is met wat kopers kan of wil betaal,” sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts: “Sulke verkopers sal gewoonlik sê dat dit voornemende kopers vry staan om laer aanbiedinge te maak, maar die feit bly dat ernstige kopers gewoonlik geen aanbod sal maak op ‘n eiendom wat hulle as oor-prys beskou nie, veral indien daar ‘n wye verskeidenheid eiendomme in die mark is om uit te kies.
“Ander kopers sal versuim om laer aanbiedinge te maak omdat hulle nie die verkoper in die gesig wil vat nie, al hou hulle regtig baie van die eiendom.
“En verkopers moet besef dat kopers gewoonlik ‘n beter begrip van die mark het as verkopers. Verkopers kyk straks na ‘n paar huise voordat hulle ‘n prys vir hulle eie eiendom bepaal, maar kopers het gewoonlik reeds ‘n paar weke of selfs maande lank na dosyne huise gaan kyk teen die tyd dat hulle besluit om ‘n aanbod te maak – en het dus ‘n baie goeie idee wat waarde bied en na watter kant die mark besig is om te draai.”
As jou huis dus na ‘n paar weke in die mark nie veel aftrek kry nie, sê Everitt, behoort jy jou agent te nader en dit ernstig te oorweeg om die prys so gou as moontlik te verlaag.
“Verkopers wat die prys verlaag terwyl die huis betreklik kort in die mark en nog vars in die geheue van moontlike kopers is, het ‘n goeie kans om die bemarkingsmomentum vol te hou. Maar verkopers wat te lank sloer sal waarskynlik nie hulle eiendom verkoop kry nie omdat dit vir kopers so aantreklik gaan wees as verlede week se verlepte vrugte.”
- Uitgereik deur Chas Everitt International
17 Augustus 2010

