
'n Paar "alternatiewe" dames het ook hul opwagting Vrydag by die Bat tle of the Bushveld damesgholfdag, wat die afgelope naweek by Thabazimbi Gholfklub aangebied is, gemaak. 'n Rekordgetal van 64 dames van Pre to ria af het die Vrydag reeds opgedaag en Saterdag se veld het uit 96 spelers bestaan. Sien ook berig binne.
THABAZIMBI – Vier en sestig dames vanaf Pretoria het Vrydag Thabazimbi Gholfklub binne geval. En dit was met ‘n groot slag, want hulle was hier vir die Slag van die Bosveld (The Battle of the Bushveld).
Tydens die aand se dinee was daar reeds ‘n voorsmaak van hoe die meisies kan kuier. Baie, baie lekker. Saterdag is daar reeds vanaf sewe-uur die oggend afgeslaan want daar was in totaal 96 spelers wat die dag gespeel het. En party van hierdie dames kan ‘n bal darem slaan, hoor. Die formaat was ‘n Beterbal Stableford met ‘n keuse bofhou. Die laaste groep het net-net in die donker klaar gemaak.
Olga Zorgman en Susan Buys wen op ‘n uittel met 50 punte. Twee manne, Attie Retief en Christo Rall was tweede (50). Desi Earle en Alta Venter (49) en Chappies Behrens en Piet Venter (49) was ook onder die wenners. Sewentien pare het in die besonder duursame pryse gedeel.
Die aand na die prysuitdeling is daar gesmul aan die heerlike kos wat deur Evelyn en Chappies Behrens voorberei is. En toe is die tafels weggeskuif en is klub se dak met maklik ‘n halwe meter gelig selfs al was al die rooi wyn toe reeds op.
Die klub se baie dankie vir Esmé, Louise en die dames vir die besondere dag wat julle gereël het. Dankie ook aan die borge vir die pragtige pryse. Dit was ‘n dag wat lank onthou gaan word. En baie dankie aan die Pretoria se dames wat soveel warm pret op ‘n koue dag gebring het. Julle het teleurstellende rugby se bitter smaak weggevat.
‘n Paar manne het ook nog op Amandelbult teen Swartklip liga gespeel en 3-1 gewen.

