Categorized | Sport, Top Stories

Fly-In by nuwe aanloopbaan van Modelvliegtuigklub

Die kwart-skaal Piper Cub lyk nes die ware Jakob met die Thabazimbi berg in die agtergrond.

THABAZIMBI – Met die winterson wat flouerig oor die Thabazimbi Bosveld van agter die skouer van die Kransberg loer, nie ‘n blaartjie wat roer nie en kiewiete wat koulik met stywe bene oor die los grond van die nuwe aanloopbaan loop, het die vliegtuie van Thabazimbi R/C Klub gereed gestaan terwyl die manne besig was met voorbereidings.

Eweskielik word die vroegoggendstilte verbreek deur die grom van ‘n 61 OS Max tweeslag masjien. Aanvanklik gaan dit maar proes-proes, maar gou verander die stotterende grom in ‘n egalige dreuning.

Die wit en blou romp van ‘n modelvliegtuig word sigbaar op die aanloopbaan, draai sy neus in die rigting van die son, aarsel ‘n oomblik en storm dan met ‘n gejuig oor die aanloopbaan om oomblike later sy stofstreep agter te laat en met oorgawe die koue oggendlug in te seil.

Dit is hoe die fly-in van die Thabazimbi R/C Klub afgeskop het. Met net ses aktiewe lede het die manne nogtans daarin geslaag om elf modelvliegtuie byeen te bring vir ‘n baie geslaagde bekendstellingsbyeenkoms. Alhoewel daar nou nie duisende toeskouers opgedaag het nie, het die wat wel daar was, ‘n baie aangename oggend saam met die klublede deurgebring.

Sommige het spesiaal gekom om die vliegtuig wat op verlede week se voorblad van Die Kwêvoël was, ‘n Tiger Moth, in aksie te sien. As ‘n bonus was daar toe ook nog ‘n Piper Cub teenwoordig wat die ouer garde heel nostalgies gelaat het. Vir die jongeres was daar ook van die nuwer sport vliegtuie en een of twee akrobatiese modelle wat vir heelwat opwinding gesorg het, veral met die landings wat nie altyd so glad verloop het nie as gevolg van ‘n stowwerige baan met ‘n los, sanderige oppervlak. Dit het veroorsaak dat van die modelle op hul neuse tot stilstand gekom het en selfs een wat van sy onderstel ontslae geraak het. Maar soos die manne sê: “It’s all in the game”.

Die klublede wil elkeen wat ‘n draai kom maak het, hartlik bedank vir hul ondersteuning en belangstelling. Julle het hul dag gemaak en aanspoor om volgende keer en die kere daarop net beter en beter te doen.

Die doel is juis om die sport te bevorder omdat daar ‘n afname wêreldwyd is in die bedryf van hierdie sport. Die kinders wil mos deesdae net Mixit of met simuleerders op ‘n rekenaar speel, eerder as om in die buitelug ‘n adrenaliensport soos hierdie te bedryf.

Die sport is nie net vir ou omies op pensioen nie. Die klub wil graag die jeug (seuns en veral dogters) uitnooi om by hulle te kom inval. Mens weet nooit waar jou pad kan lei van modelvliegtuie af nie. Dalk ‘n ruimtevaarder of twee?

Die aanloopbaan is net verby die skietbaan op die Spitskoppad en almal wat belangstel is welkom om te kom kyk terwyl die lede met hul modelle in die lug rondspeel. Vir meer inligting, kontak gerus vir Connie Conradie by 014 772 1663 (Huis).

Leave a Reply

Download Die Kwêvoël

Become a fan on Facebook

Die Kwêvoël on Facebook

Gallery

Walter Neser Thabazimbi skole 4x4 Paragliding Kumba Nationals quads_expo_2007 Paragliding Bomgooi Thabazimbi Vloed 16.gif                    4x4 Wildsritte in Thabazimbi

Archives

 

July 2010
M T W T F S S
« Jun   Aug »
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031