Archive | January, 2010

Koedoeskopinwoner sterf aan keelkanker

KOEDOESKOP – Op Oukersaand, 24 Desember 2009, het Ehan Smit (35jr) sy jaarlange stryd teen kanker verloor.

Ehan was werksaam by Koedoeskop Motorhawe. Hy is in Februarie 2009 met keelkanker gediagnoseer waarna dit agressief deur sy hele liggaam versprei het.

Hy laat sy eggenote, Elizna, hul vyfjarige tweeling Hanro en Elhanize, familie, skoonfamilie en vriende na.

Posted in General0 Comments

2010 ’n jaar vol belofte

Deur Johan Muller

THABAZIMBI – Bosveld Akademie Privaatskool sien uit na ‘n jaar vol uitdagings en geleenthede en wens hiermee vir ieder en elk ‘n geseënde jaar toe.

In die lig van uitdagings en geleenthede het dit sommer vroeg uit verskeie oorde aan die lig gekom dat daar onsekerheid is rondom die kurrikulum wat deur Bosveld Akademie gevolg word asook vakstandaarde en dat kinders summier teruggehou sal word indien hulle van Bosveld Akademie, as semi-privaatskool, na ‘n staatsondersteunde skool sou verskuif.

Bosveld Akademie se onderrigprogramme (kurrikulum) voldoen aan meer as die vereistes van die Nasionale Kurrikulumverklarings en word deur UMALUSI (die Onafhanklike Eksamenraad) gemonitor en bekragtig. Die Hoërskool bied die BCVO-Kurrikulum in Afrikaans aan. Die feit dat die kurrikulum op hierdie wyse aangebied word, gee ‘n uitstekende geleentheid vir moedertaalonderrig en word daarop klem gelê om leerlinge so toe te rus dat hulle met al die nodige vaardighede die toekoms kan aanpak.

Matrikulante van Bosveld Akademie ontvang ’n erkende Nasionale Senior Sertifikaat uitgereik deur UMALUSI en ‘n Senior Sertifikaat uitgereik deur BCVO wat hulle in staat stel om by enige Tersiêre instelling verder te studeer.

Na verskeie gesprekke met plaaslike onderwyslui is daar wedersyds bevestig dat die fokus  nog altyd gerig was en sal wees op die welstand van die kind en dat dit die opvoeders se nommer een prioriteit is. Om enige onduidelikheid uit die weg te ruim kan mnr Campbell van Hoërskool Frikkie Meyer aangehaal word deur die volgende stelling wat hy gemaak het tydens so ‘n gesprek: ”Toelating tot skole word deur bepaalde wetgewing gereël. Akademiese standaarde en kwalifikasies word deur UMALUSI bestuur, organiseer en administreer. Akademiese standaarde verskil egter van skool tot skool. Skole wie se akademiese standaarde aan die vereistes van UMALUSI voldoen, word deur hierdie liggaam bevestig en bekragtig. Toelating vanaf ‘n staatsondersteunde skool na ‘n staatsondersteunde skool word gedoen op grond van ‘n amptelike oorplasingsertifikaat. Toelating tot staatsondersteunde skole vanaf privaat- of semi-privaatskole word gedoen volgens amptelike wetgewing.” Toetsing van leerlinge word wetlik vereis en is nie ‘n refleksie op die standaarde van semi-privaat of privaatskole nie. Bosveld Akademie se arbeidsterapeut evalueer ook die leerlinge wat van enige ander skool na Bosveld Akademie verskuif om sodoende die leerling se behoeftes te bepaal.

In die lig van Bosveld Akademie se 100% slaagsyfer verlede jaar kan hul met trots sê dat hul as semi-privaatskool, gemeet aan die voorlopige nasionale uitslae, ‘n uitstekende akademiese standaard handhaaf.

Bosveld Akademie het ‘n oopdeur beleid, en alle ouers, skoolhoofde, onderwysers en leerlinge is welkom om te kom kuier indien daar enige vrae is.

Bosveld Akademie wens alle ouers en leerlinge van alle skole in die omgewing ‘n baie geseënde jaar en sukses toe in alles wat julle aanpak.

Posted in School News0 Comments

KunsteGrot reg vir Bobby en Orkes

THABAZIMBI – Te oordeel aan die positiewe reaksie, gaan 10 Februarie 2010 vir teatergangers ‘n baie besonderse aand wees.  Bobby van Jaarsveld is sonder twyfel een van die opwindendste en talentvolle jong sangers wat die afgelope jaar die musiektoneel betree het en met hom op 10 Februarie op die verhoog kan dit nie anders as ‘n besondere aand wees nie.

Met sy Hollywood-voorkoms en sterk stem het hy alles wat nodig is om `n superster te word.  Bobby is ook aangewys as Gunsteling Kunstenaar van 2009 deur die DKNT.  Diegene wat nog nie ‘n kaartjie in die hand het nie – opskud, daar is nog net enkeles oor!

Onthou die Kunsmark van 6 Februarie – dit gaan gelaai wees met pragtige, praktiese, bekostigbare artikels, kunswerke en heerlike tuisgebak.
Merk ook solank 19 Maart in die dagboek – Jak de Priester is oppad.

Vir alle navrae en besprekings, kontak Rita by 083 7448559.

Posted in Entertainment0 Comments

Hitte raak spelers

THABAZIMBI – Verlede Saterdag se spel was IPS. Die hitte het seker deesdae ‘n invloed op die bywoning nieteenstaande die goeie toestand van die baan. Heinrich Penzhorn en Rudie Conrad eindig albei op 36 Punte. Piet Venter met 35 was kort op hulle hakke.

Pietie Terblanche en Hans Human, ook twee van die ou ysters wat lank afwesig was na groot operasies is ook terug op die baan. Op die oomblik is dit net Riaan Vorster wat nog aansterk na sy operasie.

Die Sages het verlede Donderdag op Naboomspruit gespeel. Dit is nou wel ver om te ry maar dit bly maar lekker om saam met die geesgenote te speel. Christo Rall was die dag se wenner met 40 punte.

Dit was lekker om vir twee naweke te kyk hoe ‘n nuwe ster op die die gholf horison begin skitter toe Charl Schwartzel sulke puik spel gelewer het. Ons hoop dat hy nou die vaandel verder hoog gaan hou.

Eerskomende Saterdag se spel is ‘n pare trekking. Afslaantyd sal weer 12 uur wees. Die gereelde Woensdag Pick n Pay Sonsakker met die Jolee trekking is nog steeds gewild.

Die ledetrekking wat met elke Slagspel plaasvind is na R500 verhoog. Die persoon wie se naam getrek word moet egter teenwoordig wees om te wen.

Posted in Sport0 Comments

Jongboere optog oor plaasmoorde

Tydens ‘n telekonferensie wat op 5 Januarie 2010 deur die Provinsiale Jongboerkomitee gehou was, is besluit dat daar ‘n memorandum in Pretoria oorhandig sal word om beswaar te maak teen die grootskaalse uitwissing van kommersiële boere deur plaasaanvalle en plaasmoorde.

Die oorhandiging sal op Saterdag 6 Februarie 2010 plaasvind.

Die goedkeuring vir die optog deur die Pretoria Magistraat is ontvang en dui aan dat die oorhandiging vanaf 10:00 tot 11:30 sal duur. Die oorhandiging sal plaasvind buite die Hoofkantoor van die SAPD op die hoek van Pretorius en Paul Krugerstrate. Deelnemers kom reeds 09:30 by LC de Villiers sportveld bymekaar.

Die doelwit is om die aanvalle en moorde op wetsgehoorsame boere uit te wys. ‘n Manifes sal oorhandig word waarin aangedui word dat georganiseerde landbou baie uitdagings suksesvol die hoof bied, die plattelandse ekonomie stabiliseer en werk skep. Misdaad is egter een aspek wat die volhoubaarheid van kommersiële landbou dramaties ondermyn. Kommer is uitgespreek omdat die kommando stelsel vernietig is sonder dat enige ander werkbare struktuur in plek daarvan gestel is. Die Manifes stel dit duidelik dat die plaasaanvalle en plaasmoorde die intensiteit van ‘n konvensionele oorlog aanneem met 2500 boere reeds vermoor vanaf 1994. Die Manifes dui aan dat dit wil voorkom asof meer boere in Suid Afrika doodgemaak word as wat soldate in Irak sterf.

Die Manifes stel dit duidelik dat georganiseerde landbou geen ander keuse gehad het as om self vir die plattelandse veiligheid verantwoordelikheid te neem nie. ‘n Plaaswagstelsel is deur die hele land in werking gestel met die doelwit om plattelandse veiligheid te vestig. Die Manifes stel dit dat die Plaaswagstelsel van ‘n roterende groenlig gebruik maak om hul werk, sonder betaling, uit te voer. Die President se kantoor word versoek om die gebruik van die ligte aan die Plaaswagstelsel toe te ken.

Die Manifes stel die vraag of die regering op dieselfde manier sou reageer indien 3000 swart mense koelbloedig op die mees brutale manier deur wit kriminele vermoor was?

Onder die eise wat ook gestel is, is dat die kantoor van die President gevra word om te erken dat die SAPS nie in staat is om die brutale en aanhoudende moorde op boere te voorkom nie. Dat die roterende groenlig vir  gebruik deur die Plaaswagstelsel onder leiding van TLU SA aanvaar word. Dat die regering fondse sal voorsien vir ‘n konferensie gereël deur die ondertekenaars van die Manifes met die oog daarop om plaasaanvalle en plaasmoorde te bespreek en oplossings te formuleer en dat plaasaanvalle en plaasmoorde as ‘n aparte misdaad in die misdaadstatistiek aangemeld moet word.

Mnr Johan van Biljon, voorsitter van die Provinsiale Jongboerkomitee het gesê dat die aksie landwyd bekend gestel word en dat verskeie organisasies betrek word. TLU SA as nasionale organisasie gaan deelneem, asook studente, die Vroue Landbou Unie Noord, en AfriForum Jeug. Hy het al die organisasies bedank vir hulle bereidwilligheid om aan die belangrike aksie deel te neem. Alle plattelanders en stedelinge, oud en jonk, word uitgenooi om aan die optog deel te neem.

Posted in Agriculture0 Comments

Pienk boog vir Anita

THABAZIMBI – Pro-Bow boogklub het op Saterdag 12 Desember gesorg vir ‘n vroeë Kersfees toe hul vir Anita Peens haar eie boog oorhandig het.
Anita was een van die twee slagoffertjies wat verlede jaar ‘n ledemaat verloor het in ‘n gru busongeluk. Sedertdien het sy bewys dat die gees groter as die vlees is en het boogskiet as een van haar nuutste stokperdjies aangedurf. Anita het reeds van ‘n jong ouderdom booggeskiet en kon weer vinnig dié gewilde sportsoort bemeester.

Anita en haar ouers bedank graag vir Pro Bow Archery asook Pro Bow boogklub vir die bydraes wat gelewer is om haar boog te kon aanskaf.

Posted in Sport0 Comments

Derde kompetisie vir Northam Hengelklub in 2010

NORTHAM – Die naweek van 9 en 10 Januarie is reeds die derde hengelkompetisie vir die jaar aangebied.

Die kompetisie het by die Northam Konsentrator plaasgevind en die wenners is bepaal deur die hengelaars wat die meeste punte verower het. Die punte is as volg vasgestel: 10 punte vir elke vis gevang en 10 punte vir elke kilogram. Die kompetisie het op Saterdag om 14:00 begin en Sondag om 12:00 ten einde geloop. Die senior wenners was Theunis Botha, Rudi Smith, en Rudoph Dreyer. Die wenners in die dames afdeling was Marietta Botha, Martie Murray en Desire Strydom. In die juniors afdeling wen Gerrie Erasmus, gevolg deur Mauritz Claasen en Gary Retief. Die wenners in die penkoppe afdeling was Dirkie de Kok, Dawie de Kok en Buffel Olivier. ‘n Totaal van 82 hengelaars het altesaam 853 vis gevang met ‘n somtotaal-gewig van 482kg.

Posted in Sport0 Comments

Veediewe laai 21 speenkalwers

NORTHAM – Die nuwejaar het vir Me Marthie Schoeman van die plaas Grootkuil tussen Northam en Swartklip met ‘n allemintige verlies begin.

`n Onaangename beeld het me Schoeman in die gesig gestaar, toe hul op 16 Januarie op die plaas aankom. Veediewe het in die tydperk vanaf 6 tot 16 Januarie 21 van me Schoeman se Santa-/ Simmentaler – Brahaman speenkalwer kruisings met ‘n vragmotor opgelaai. Drie speenkalwers is dood langs die kraal aangetref terwyl koeie gestaan en bulk het vir hul kalwers. Volgens die spore in die kraal, moes die beeste mekaar beseer en vertrap het as gevolg van die vinnige opjaag van die beeste op die veediewe se vragmotor. Vir me Schoeman is die verlies van 24 speenkalwers op een dag nie iets wat enige boer sy mede boer toewens nie.

Volgens die getalle van die beeste op die plaas, is een koei ook vermis en word daar aangeneem dat sy saam met haar kalf gelaai is. Die koei se brandmerk is BLE. Die kalwers se linkerore is in die vorm van `n swaelstert geknipmerk. “`n Mens pas jou diere so lank op tot hul gekalf het, deur die hitte, moeilike tye as dit droog en warm is, tot die kalwers uiteindelik verkoop kan word, en nou dit!” sê me Schoeman wat geken word op veilings te Northam vir haar kwaliteit diere.

Die verlies van die speenkalwers is na beraming sowat R125 000.  ‘n Beroep word gedoen op die gemeenskap om enige inligting aan die Veediefstaleenheid deur te gee. Enigiets wat moontlik verdag voorgekom het gedurende die afgelope tyd kan tot hulp wees tot die opsporing van die vee. `n Beloning word deur me Schoeman aangebied vir inligting wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van `n persoon of persone kan lei. Inspekteur KP van Dyk van die Veediefstaleenheid kan geskakel word by 078 251 0860.

Posted in Agriculture0 Comments

Bekende van Thabazimbi oorlede

THABAZIMBI – ‘n Bekende gesig in een van Thabazimbi se plaaslike supermarkte, Dawid van der Walt, is skielik op Donderdag 31 Desember 2009 oorlede.

Dawid (55jr) is gebore en getoë te Pretoria en voorheen met Susan getroud wat in 2003 oorlede is. Daarna ontmoet hy Marietjie Scott en verhuis na Thabazimbi. Dawid en Marietjie is getroud in Maart 2005 en het op 21 Mei 2009 ‘n babaseuntjie, Stefan, ryker geword.

Dawid laat sy eggenote, Marietjie, drie seuns uit sy eerste huwelik, ‘n stiefseun en stiefdogter uit sy huwelik met Marietjie en klein Stefan agter.

Die familie bedank almal vir hul besoeke, kaartjies, oproepe en sms’e wat hul in hierdie hartseertyd ontvang het. Vir elke skenking, is hul ook baie dankbaar voor en bedank spesiaal die personeel van Eerste Nasionale Bank en Pick n Pay  vir al hul  hulp en bystand.

Posted in General0 Comments

Week 4 – 22 January 2010

Week 4 – 22 January 2010

Posted in Download0 Comments

Download Die Kwêvoël

Become a fan on Facebook

Die Kwêvoël on Facebook

Gallery

Thabazimbi Vloed 20.gif Thabazimbi skole Visvang Marakele SDC12104 Thabazimbi Vloed 10.gif Harley groep Golf Natuur

Weather Forecast

May 18, 2012, 3:49 am
Clear
Clear
5°C
real feel: 8°C
humidity: 71%
wind speed: 0 m/s N
sunrise: 6:40
sunset: 17:33
Forecast May 18, 2012
day
Sunny
Sunny
26°C
wind speed: 1 m/s WNW
wind gusts: 2 m/s
Forecast May 19, 2012
day
Sunny
Sunny
26°C
wind speed: 1 m/s NW
wind gusts: 2 m/s
More forecast...
 

Archives

 

January 2010
M T W T F S S
« Dec   Feb »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Site protected by VNetPublishing.Com Web Security Tools