Vlaggie skuif voortdurend

THABAZIMBI – Vlagspel is nie so ‘n formaat in gholf wat baie gespeel word  nie. Dit beteken dat die speler wat die vlaggie die verste op die skoonveld kan plant, nadat baansyfer plus sy voorgee gespeel is die wenner is. Louise van Graan het eerste die vlaggie geplant wat toe verder gedra is deur Sarel Marais. Daarna het Nita Barnard dit weer verder geneem en uiteindelik het Christo Rall dit die verste gedra.
Thabazimbi se ligaspan het op Naboomspruit teen Amandelbult kragte gemeet en gelykop gespeel. Soos afgelei kan word was dit ‘n harde stryd tussen die twee spanne.
Die beurtspel (Greensomes) wat Saterdag 30 Mei sou plaasvind verval omdat die klub ‘n borgdag aanbied vir Jaco Prinsloo.
Jaco, ‘n baie belowende gholfspeler en tans ook die klubkampioen word deur die Universiteit van Pretoria na Duitsland gestuur om daar te gaan  speel en praktiese ervaring op te doen. Die klub wil graag help om die onkostes te dek en daarom die borgdag. Spelers kan gerus ook hier met hulle teenwoordigheid ‘n bydra lewer. Die formaat gaan ‘n volle Krabbel (American Scramble ) wees, waar drie van die klub se spelers saam met ‘n besoekende gholf student speel. Die besoekers is almal puik spelers en speel blykbaar almal van lae voorgees af.
Spelers moet asseblief ook onthou dat die volgende Interaksie Gholf op Vrydag 5 Junie is. Maak asseblief seker dat julle spanne reg is.