Nog ‘n beter skou vir ‘09

Paul Dreyer
THABAZIMBI – Na die wegholsukses van verlede jaar se jaarlikse Thabazimbi Landbou- en Nywerheidskou kon die skoukomitee nie anders as om te probeer verbeter om vanjaar se skou nog beter te kry nie.
Op die musikale front was die musikante, soos Lianie May, Jaco Labuschagne, NKD en Munro, ‘n groot trekpleister. Die ou groottes van Country, Bobby Angel, Barbara Ray, Clive Bruce, Billy Forrest en Tommy Oliver het weereens bewys dat Country nog lank nie dood is nie.
Met bogenoemde kunstenaars was dit moeilik om te verbeter, maar met kunstenaars soos Nicholis Louw, Izak Davel en Jade Storm behoort almal weer tou te staan vir ‘n behoorlike sit of staanplek.
Die Country vertoning skuif na Saterdagmiddag net na die Idols kompetisie.  Dit gaan ‘n lekker Country middag-aand wees met Lance James, Jody Wayne, Vangie Coker, Ken Mullen en Clive Bruce.  Plaaslike kunstenaars wat ook gaan optree is Jessie Lange en Victor van Wyk wat vir die ou groottes gaan wys waar Thabazimbi op die kaart is.
Ander lokale kunstenaars wat vanjaar gaan optree is Rainier le Roux (wenner van verlede jaar se Idols kompetisie), Tinus Venter, Lené Campher, Nelri Benadé en Ursula Viviers van Ellisras.  Rainier se CD, wat hy as prys ontvang het met die Idols kompetisie, is reeds opgeneem en in die finale mengstadium en behoort betyds beskikbaar te wees vir vanjaar se skou.  Victor van Wyk van Thaba Stereo is reeds besig om te kyk of hy ‘n soortgelyke prys kan beding vir die Idolskompetisie. ‘n Mini-Biertuin word beplan naby die verhoog vir dié wat rustig wil agteroorsit en die musiek geniet.
Vir die manne met harde baard is daar vanjaar twee mampoerstalletjies tydens die skou asook ‘n groot verskeidenheid biltong, kos, tuisgebak, versnapperings, industriële, plaas, nywerheid en ook die ander uitstallers wat ons jaarliks kom besoek..
Vanjaar is daar ‘n paar eerstes tydens die skou.  Vir die eerste keer in ‘n lang tyd gaan die skou ‘n jaggeweer skyfskiet kompetisie aanbied op die Koos Cronje skietbaan.  Die Skougenootskap is ook trots daarop dat daar vanjaar vir die eerste keer ‘n maraton aangebied word op Saterdag, 1 Augustus.  Afstande waarin meegeding word is 5 km, 10 km en 21 km, so die langasems kan maar solank voorberei en fiks word.  Die organiseerders van die Vlakvark Fietswedren beloof ook ‘n ekstra groot fietswedren vanjaar.  Dan kan almal wat dink hulle kan dans ook inskryf vir Thabazimbi se weergawe van “So you think you can dance!”
Die skou is ook in ‘n gevorderde stadium van onderhandeling met ‘n paar groot trekpleisters.  Verdere besonderhede sal later bekend gemaak word.
Die skou is ook weer trots om die amptelike Mej. en Mnr. Thabazimbi aan te bied.  Dié glansgeleentheid tesame met ‘n modeparade gaan aangebied word deur Izak Davel en Jade Storm.  Die tema is weer “Wille Bosveld” en die deelnemers word gevra om volgens die tema aan te trek.  Inskrywingsvorms vir Mej. en Mnr. Thabazimbi asook die Idols kompetisie is reeds beskikbaar by die skoukantoor.
Die Hagelssaal en die Yskorsaal word gereserveer vir die wild- en jagbedryf.  Pro-Bow Archery bied ‘n boogskiet kompetisie aan en bring ook alles wat nodig is vir boogjag, van toerusting tot gekamofleerde klere.  Uhuru Taxidermie beloof ‘n uithaler uitstalling ook in die Hagelssaal.
Die suksesvolle Idols kompetisie vind weer op Saterdag plaas. Ander kompetisies wat ook op die terrein aangebied word sluit in sweepslaan, toutrek en beste stalletjie.
Thabazimbi Ruiterklub gaan vanjaar weer ‘n volle program aanbied by hulle eie arena by die perdestalle.
Alle voornemende uitstallers moet asseblief eers die skoukantoor kontak voordat enige inbetalings in die Skou se rekening gedoen word aangesien die skougenootskap se bankbesonderhede verander het nadat die uitnodigings uitgestuur is.
Lees volgende week meer oor die beeste, perde, landbou en indusriële uitstallings van vanjaar se skou.
Kontaknommers: Skoukantoor – 0145 777-1204, Helene Stevens 072-599-9609, Ursula Roux (Mej Tbz en Think you can dance) – 083-584-6061, Paul Dreyer (Idols) – 083-402-1896, Johan du Toit – 082-879-3067, Pro-Bow Archery – Nico – 084-713-6603 & Hannetjie – 073-674-9956, Jan Trichardt 072-476-6745