Damesoggend met Sonja Herholdt

THABAZIMBI- Eerskomende Saterdagoggend, 30 Mei, bied die damespersoneel van Laerskool Thabazimbi ‘n Damestee aan.
Die gasspreker is die bekende kunstenaar, Sonja Herholdt, wat die pragtige motiveringsprogram getiteld “die hartklop van Vrouwees” aanbied.
Sonja, wie se groot suksesse insluit niks minder nie as agt Saries, die Papillon Rising Star Award as een van die agt top vroue in Suid-Afrika wat sukses behaal het, ´n Erkentlikheidstoekenning van die Afrikaanse Sakekamer van Pretoria en ´n optrede voor die Amerikaanse president, ken ook intense laagtepunte wat insluit ´n aborsie, ´n man wat regdeur hul huwelik openlike verhoudings met ander vroue gehad het en ook ´n kind by ´n ander vrou gehad het, ´n ernstige motorongeluk,´n kind wat op twee jaar doof word, selfsekwestrasie en die ewige media, wat deur die jare positief en ook baie negatief oor haar berig het, sien ook www.sonjaherholdt.co.za.
Sonja is tans besig met die motiveringsveldtog, Die hartklop van Vrouwees, om vroue te inspireer om hul volle potensiaal te bereik en hulleself prakties en positief in hul omgewings te laat geld. Dis alombekend dat die vrou binne die konteks van beide die gesin en die gemeenskap ‘n fundamentele en baie belangrike rol vertolk. Die era waarin ons leef en die eise wat aan die moderne vrou gestel word het egter ‘n nadelige inslag op haar vermoë om hierdie natuurlike rol te vervul. Die waarde en betekenis van vrouwees word in wese hierdeur geraak. Op haar eie en unieke manier bied sy Die hartklop van vrouwees aan, ‘n uurlange lewensverrykende musiekmotiveringsprogram. Die hartklop van vrouwees is ‘n eerlike, openhartige program, propvol wyshede en waarhede, ‘n ware inspirasie vir elke vrou.  ‘n Gesonde en heel vrou is die grootste gawe vir die wêreld.
Die oggendtee begin om 9:30 vir 10:00. Vir enige navrae of kaartjies kontak gerus vir Rita by 083 7448559 of Reneé by 082 4940511.