Wees slimmer as die renosterstropers

THABAZIMBI – Rubin Els, bestuurder van Thaba Tholo, het renostereienaars uitgedaag om “buite die boks” te dink en hulself so te organiseer dat hulle telkens een stappie voor die renosterstopers is tydens ‘n renosterinligtingsdag wat deur die Thabazimbi Wildbelangegroep aangebied is.
Hy beweer dat as renostereienaars hulself mobiliseer, organiseer en saamstaan dit moontlik sou wees om telkens een stap voor die goed-georganiseerde renosterstropers te wees.
Dit het egter by die vergadering geblyk dat die geveg vír renosters op meer as een vlak beveg word. Indien wetgewing, wat witrenosters groter beskerming in terme van CITES gee, ingestel word, sal dit na alle waarskynlikheid lei tot ‘n afname in getalle, omdat privaateienaars nie meer daarin sal belê nie.
Dít is wat met die swartrenoster gebeur het tussen 1960 en nou. Van ‘n bevolking van 100 000 in 1960, was daar in 1995 slegs ongeveer 3 400 oor. Binne 35 jaar het meer as 97 600 swartrenosters van die aarde verdwyn. Sedert witrenosters die afgelope 13 jaar gejag mag word, het sy getalle gestyg van ongeveer 1 700 na 17 000, waarvan 50% in privaatbesit is.
Die groot persentasie witrenosters in privaatbesit maak dit ondenkend dat die privaatsektor geïgnoreer word wanneer belangrike besluite rakende die renosterbevolking geneem word.
In nog ‘n voorbeeld het Els verwys na die toename in stropery van renosters sedert die Viëtnamese nie meer toegelaat word om renosters te jag in Suid-Afrika nie. Met ander woorde: sedert hulle dit nie meer wettig kan verkry nie, word daar na ander maniere, meestal onwettig, gekyk om dit in die hande te kry.
Dat die mark vir renosterhoring bestaan, is nie te betwyfel nie, sê Els. In die ooste word dit hoofsaaklik gebruik as ‘n koorswerende middel vir kinders, dan as afrodisiak en laastens as ‘n statussimbool. Hy vra die vraag of dit dan nie beter is om die mark te versadig met wettige produkte nie, sodat die prys later so daal dat stropery nie meer ‘n opsie is nie.
Baie inligting is by die renoster-inligtingsdag gegee oor die modus operandi van renosterstropers en hoe goed hulle georganiseerd is. Stropers verkies om toe te slaan waar daar selfoonopvangs is en publieke paaie. Op hierdie manier hoef daar geen “get away car” in die omgewing te wag waar dit suspisie sal wek nie.
Hy het ook gesê dat stropers baie moeite doen met inligtingversameling en dat werknemers of hul familie, dikwels onwetend, inligting aan vreemdelinge verskaf. Dit is ook belangrik dat werknemers baie goed behandel word en lojaliteit so gekweek word.
Ten spyte van Thaba Thole se goeie sekuriteitstelsel het die stropers steeds daarin geslaag om 14 renosters by Thaba Tholo te skiet, waarvan 6 gevrek het. Gelukkig is drie van die stropers, met goeie samewerking van mede-boere, die veediefstal-eenheid en Nkwe Securities, ‘n privaatsekuriteitsmaatskappy wat spesialiseer in plaasveiligheid, gevang. Dit is egter steeds onseker of beseerde renosters sal oorleef, want infeksies en loodvergiftiging mag nóg lewens eis.
Hy het aan die renostereienaars die ekologiese belang van elke renoster verduidelik. Die reeds beperkte genepoel van witrenosters moet opgepas word. So is een van Thaba Thole se renosters wat tydens die stopery dood is, ‘n geweldige verlies vir die Suid-Afrikaanse populasie aangesien dit genetiese materiaal bevat het wat by geen ander Suid-Afrikaanse witrenosters tot dusver gevind is nie. Daardie genetiese materiaal is vir ewig verlore.
Na afloop van die vergadering is drie mense, Rubin Els, dr Wilhelm Schack en Pallem Jones van Noordwes, verkies tot ‘n renosterwerkgroep, wat renostereienaars in die omgewing verteenwoordig. Daar is ook ‘n mandaat aan hulle verskaf om voorleggings te maak aan die regering oor voorgenome renosterwetgewing.
Reinhardt Holtzhausen, bestuurder van WRSA (Wildlife Ranching SA,) het ook die renosterdag bygewoon. Hy het verduidelik wat die implikasies is van die voorgestelde wetgewing oor Alien Invasive Species (AIS). Daarin word voorgestel dat alle spesies (hetsy plante of diere) wat nie oorspronklik in areas voorkom nie, van grond af verwyder word.
Indien die wetgewing ingestel sou word, sal dit beteken dat geen grond verkoop mag word indien daar nie voldoen is aan die riglyne nie, wat die verkoop van eiendom feitlik onmoontlik sou maak. Dit sou beteken dat enigeen wat byvoorbeeld met swartwitpense en njalas in die Thabazimbi-omgewing teel, die telery sal moet staak aangesien swartwitpense nie oorspronklik in hierdie area voorgekom het nie. Hy het gesê dat plaaseienaars volgens hierdie bepaling slegs 6 of 7 spesies wettig sou besit in enige gegewe area en dat dit die wildbedryf sou doodmaak.