Nog meer geskarrel by Cook Out

THABAZIMBI – Die geskarrel om die tafels by vanjaar se Ready Steady Bush Cook Out beloof om vir nog meer pret te sorg. In die verlede kon deelnemers kies watter bestanddele hulle in die voorbereiding wil gebruik en was daar dan ook ‘n wye keuse soos bruismeel, room, eiers, kortom alles om ‘n heel ordentlike dis saam te slaan.
Vanjaar gaan die speelveld so ‘n bietjie verander. Die verpakkings of houers van die bruismeel, koekmeel, broodmeel en mieliemeel gaan nie so duidelik aandui wat binne in is nie en in plaas van koekmeel kan jy dalk in jou geblindoekte toestand van die mieliemeel gevat het. Dieslfde gaan vir die sout, peper, bakpoeier, kakao of wat ook al beskikbaar is. Alle bestanddele moet gebruik word as beslag, roosterkoek of wat jy ookal vooraf aan die beoordelaars gesê het jy gaan voorberei. Oppas net dat die spulletjie nie ontplof nie.
Die groot verrassing gaan egter opgesluit bly in die pakkie met die vleisbestanddele wat voorberei moet word. Selfs nie eens die organiseerders of beoordelaars weet wat alles in hierdie pakkies verpak is nie. Dit kan enigiets eetbaars wees wat jy op ‘n jagtrippie in die bos kon of moes eet. Gelukkig is dit nie oorlewing nie maar partymaal kom daar ‘n hele paar delicatessens uit so ‘n wildskarkas. Vegetariërs moet maar liewers nie naderstaan nie.
Beeld gaan twee volwasse spanne uit die gehoor uitdaag om teen hulle te kom kook en as jy deel wil wees van een van die spanne moet jy sorg dat jy teen 11:30 Vrydagmiddag voor die Spar verhoog gaan wees. Kook hoef beslis nie jou sterk punt te wees om in hierdie pret te deel nie.
Tallhorse het ook aangedui dat hulle een van die borge van hierdie Cook Out gaan wees en sal daar van hulle gehalte wyne ook tydens die twee uur lange aanbieding geproe kan word. Dalk net die regte ding om daardie knatertjie mee af te spoel.
Hannes van Wyk van Egoli faam en Johrné van Huyssteen van Gons op MK faam sal die twee aanbieder/beoordelaars wees.
Kom kyk gerus en sien hoe ons kokke spartel.