Agri Lephalale spreek ESTA en Water aan

Elana Greyling

LEPHALALE – Daar is sommige kenners wat glo dat die kwessie van waterregte ‘n ernstiger bedreiging vir kommersiele boere inhou as restitusie. Nog ‘n kernkwessie in die landbou, is die feit dat die regering onlangs besluit het om privaat regslui aan te stel om alle sake rakende sekerheid van verblyfreg aan te spreek. Hierdie is van die kern kwessies wat aangespreek is onder die tema van voedselsekuriteit tydens ‘n vergadering van Agri Lephalale.
Die voorsitter van Agri Lephalale, en ook president van Agri Limpopo, mnr Francois van den Berg, is tans baie betrokke by beplande ontwikkelings en veral die watervoorsiening van verskeie projekte. Hy is voorsitter van die Krokodil-Wes Watervoorsieningsprojek se loodskomitee, ‘n komitee verantwoordelik vir die hantering van konflik tussen grondeienaars en die Departement van Waterwese en Bosbou.
Die voorsitter bespreek die kwessie van watersake in Lephalale. Die water kwaliteit in die dorp het dramaties afgeneem omdat die infrastruktuur die ontwikkeling nie kan hanteer nie.  Rou riool word naby die vliegveld in ‘n vleiland ingepomp. Agri Lephalale werk saam met die GPF om die probleme aan te spreek.
Met mynbou wat in die Bosveld geweldig uitbrei en heelparty kleiner myngroepe insluit, verhoog die moontlikheid van besoedeling dramaties. Met groot beplande ontwikkelings, word landbougrond nou vir industriële gebruik aangewend en die moontlikheid bestaan dat bees- en wildboerdery in byvoorbeeld die Steenbokpanomgewing onmoontlik mag raak.
Agri Lephalale is betrokke by verskeie werkgroepe en komitees om ‘n oog te hou oor die waterkwaliteit en voorsiening van water aan ontwikkelings. ‘n Pyplyn word beplan, maar verskillende faktore het hierop betrekking, nl. Finansiering, watervoorsiening vir die projek, betaling van water uit die projek, ens. Die water is geoormerk vir Eskom en moontlike SASOL-projekte, maar die ontwikkelings is nog nie verseker nie en daarom is byvoorbeld SASOL nog nie kontraktueel verbind tot enige betaling van hierdie water nie.
Wat wel seker is, is dat grondeienaars kollektief moet onderhandel en beding. Al hoewel Agri nooit vir ‘n grondeienaar sal onderhandel as dit byvoorbeeld kom by prysvasstelling nie, moet basiese beginsels vasgelê word. Van den Berg het boere gevra om die Agri-kantoor te kontak wanneer konsultante, prospekteerders en of enige ander groep hul plase wil betree, sodat vasgestel kan word of hulle die korrekte prosedures volg en dat hulle toerekenbaar gehou sal kan word. “Al kan ons nie in die pad van vooruitgang staan nie, moet ons seker maak dat elkeen regverdig behandel word.  Voedselsekerheid moet ook in ag geneem word. Die wet beskerm boere as eindverbruikers, maar ons moet die wet ken”, het hy gesê.
Die grondhervormingsproses en in besonder die ESTA-wetgewing is deur twee prokureurs van Moolman, Matthee & De Beer Ingelyf, naamlik Hans Jurie Moolman van Potchefstroom en Chris de Beer van die Pretoria-tak met die groot getal lede en gaste bespreek. Grondhervorming bestaan uit drie gedeeltes, naamlik Restitusie, waarin eise teen eiendomme ingesit is voor ‘n sekere datum en tans nog tot groot frustrasie van almal verwerk word, tweedens die aankoop van grond deur die regering vir voorheen benadeeldes, en derdens, die wet op uitbreiding van sekerheid van verblyfreg, beter bekend as die ESTA-wetgewing. Moolman het boere daaraan herinner dat die proses kritiek is vir Suid-Afrika se sukses. Mislukte grondhervorming is immers wat Zimbabwe op sy knieë gedwing het.
Wat restitusie aanbetref, het hy boere gewaarsku om, in gevalle van eise, seker te maak dat hulle die waardasie van hul eiendom sien. Die staat het ‘n onafhanklike waardasie, maar wys dit as ‘n reël nie vir ‘n grondeienaar nie en bied hulle dan tot 30% minder vir hul eiendom aan.
Volgens Moolman is die ESTA-wetgewing die poging van die regering om druk van hulself te verlig. Dit is die regering se taak om huisvesting te verskaf en met hierdie wetgewing skuif hulle die verantwoordelikheid gerieflik af op grondeienaars. Hy wil egter seker maak dat grondeienaars ten volle ingelig is van hul regte onder hierdie wet wat so ‘n groot impak op die landbou het.
In teenstelling met die algemene wanopvatting, hoef ‘n werker nie vir tien jaar op ‘n plaas te bly voor hy kan aanspraak maak op verblyfreg nie. Enige persoon wat toestemming kry om op die plaas te bly, kan aanspraak maak op verblyfreg.  Dit kan dus die persoon wees wat ‘n boer ‘n dag tevore aangestel het, of die familielid wat hy toelaat om saam op sy grond te woon.
Wat uiters belangrik is, is dat grondeienaars en boere nie mense op hul grond moet laat woon wat nie by hul werksaam is nie. Verblyfreg spruit uit diensooreenkoms wat die verhouding tussen werkgewer en werknemer reguleer. Bykomende voorwaardes tot die diensvoorwaardes word dikwels mondelings ooreengekom, soos onder andere hoeveel vee hy kan aanhou en wie by hom mag bly. Die beëindiging van verblyfreg word dan gekoppel aan die beëindiging van die werkskontrak. ‘n Rede wat aangevoer kan word, is die verbrokkeling van die verhouding tussen werkgewer en werknemer. Diefstal kan lei tot so ‘n onherstelbare verbrokkeling.
Wanneer ‘n sogenaamde okkupeerders nie meer vir die grondeienaar werk nie, is dit egter nie so maklik om van die grond te verwyder nie. Die enigste weg is net ‘n regsproses wat moet uitloop op uitsetting. Sekere voorwaardes geld en prosedures moet tot op die letter gevolg word.
Die staat het nou besluit om privaat prokureurs aan te stel om al hierdie ESTA-sake te opponeer. Dit gaan grondeienaar duisende rande meer kos as die gemiddelde R 25 000.
Naas Steenekamp van Virbac het die tema toegelig binne dieregesondheid in die vee- en wildbedryf. Hy het boere herinner aan hul inentingsprogramme. Verskalwers onder agt maande moet teen Bruselose (Besmetlike Misgeboorte) ingeënt word. Einde Julie tot die begin September moet diere geënt word teen onder andere slenkdalkoors, lamsiek en ander siektes wat deur muskiete oorgedra word. Verder het hy ook verskillende dipstowwe bespreek wat onderskeidelik vir wild en vee geregistreer is. Steenekamp waarsku boere dat dit baie belangrik is om ook vlieë te beheer.  Hy beveel aan dat daar nie op die hitte van die dag gedip word nie. Dit is nou die tyd vir parasietbeheer. Indien parasiete geignoreer word, vreet dit stil-stil ‘n pad deur ‘n boer se wins.
Nog belangrike kwessies wat bespreek is, is die feit dat permitte vir die jag en vervoer van wild, asook enige ander permitte vanaf Natuurbewaring nie meer by die plaaslike kantoor verkry kan word nie. Die vergadering het eenstemmig gevoel dat dit absurd is en het aanbeveel dat daar tot aksie oorgegaan moet word. Van den Berg het met dr Andre Moolman van SA Wild en met mnr Jan Viljoen van TLU Noord geskakel en hulle is dit eens dat die saak nie daar gelaat kan word nie.
Die vergadering is afgesluit deur ‘n herinnering van Van den Berg dat boere sterker is as hulle saamwerk. “Al is dit moeite om betrokke te wees, is dit beslis die moeite werd!” meen van den Berg.
Die dag is afgesluit met ‘n heerlike braai met lede en gaste.