Vlieënier sterk aan na ongeluk

THABAZIMBI – Die vlieënier wat Vrydag 10 April tydens die Skermvlieër Kampioenskappe op Thabazimbi in ‘n fratsongeluk beseer is, se toestand het baie verbeter sedert hy Vrydagaand na Unitas Hospitaal in Pretoria oorgeplaas is.
Die ongeluk het gebeur net nadat hy opgestyg het en ‘n rukwind sy skermvlieër teen die bergwand vasgewaai het. Henk Havenga van Thabazimbi Krisisbeheer, wat heeltyd tydens die kampioenskappe diens op die terrein gedoen het, was onmiddellik daar om die man met sy beserings te help en te stabiliseer vir die rit teen die berg af na Curamed Hospitaal. Na verdere behandeling in die hospitaal is daar besluit om die beseerde na Pretoria toe oor te plaas.
Die organiseerders van die kampioenskappe is vol lof vir die professionaliteit wat aan die dag gelê is deur die krisis- en mediesepersoneel en dra dan ook hulle dank oor aan Henk en die personeel van Curamed Hospitaal.