Seksuele molestering van kinders vereis AKSIE

Hennie Pauw

THABAZIMBI – ‘n Bekommerde ouer wie se 6-jarige kind by ‘n Thabazimbiese skool deur ‘n ander kind seksueel gemolesteer is, is besig om, saam met ander rolspelers, strukture in plek te kry om slagoffers en potensiële slagoffers van hierdie misdaad by te staan.
As gevolg van die hoë voorkoms van seksuele misdrywe waar die slagoffers kinders is, is dit baie belangrik dat ouers ingelig is oor die gevare en realiteite van molestering in ‘n spesifieke gemeenskap, die simptome wat gemolesteerde kinders in hul gedrag openbaar en wat ouers moet doen indien hul kind blootgestel is aan molestering.
Volgens Artikel 110 in die nuwe Kinderwet, wat op 1 April vanjaar in werking sou tree, is mense soos onderwysers, kleuterskooltoesighouers, mediese personeel, predikante en beraders verplig om gevalle waar kinders opsetlik mishandel word, aan te meld by die polisie of ‘n maatskaplike werker. Indien iemand in gebreke bly om dit te doen kan hulle beboet word tot ‘n bedrag van tot R20 000 en/of gevangenisstraf van tot 5 jaar.
Dit is baie belangrik dat volwassenes besef dat kinders nie sommer stories sal opmaak oor die feit dat hulle gemolesteer is nie en onmiddellik op inligting hieroor moet reageer, sê dr Tessa van Wijk, traumatoloog van Thabazimbi. Dis beter om te oorreageer as om niks daaraan te doen nie.
En binne die skoolopset sal niemand daarby baat om die bestaan van die probleem te ontken of toe te smeer nie. Onderwysers en skoolhoofde moet besef dat molestering, net soos die dwelm- en drankprobleem in Thabazimbi, wel bestaan en aangespreek moet word. Probleme kan slegs aangespreek word indien dit in die ope gebring word, sê sy.
Volgens beide die SAVF maatskaplike dienskantoor en dr Van Wijk, is seksuele molestering ‘n wesenlike probleem in Thabazimbi, net soos in die res van die land. In die afgelope jaar is 28 sake van seksuele molestering deur die SAVF maatskaplike dienste ondersoek. En die SAVF maatskaplike werker is maar een van 9 maatskaplike werkers in Thabazimbi.
Dit is dus duidelik dat hoewel die Kinderwet duidelik voorskryf hoe die staat en ander rolspelers verantwoordelik is vir die beskerming van kinders die nodige infrastruktuur nie noodwendig bestaan om in die behoefte van gemolesteerde kinders te voldoen nie. Daar word ook dikwels berig oor die onvoldoende hofprosedures wanneer dit kom by sake van seksuele molestering, veral van kinders.
Die presiese omvang van die voorkoms van seksuele molestering in Thabazimbi is moeilik bepaalbaar. Min van dié soort misdade word by die polisie aangemeld, hetsy om die kind verdere trauma te spaar en skuldigbevinding nie noodwendig volg uit ‘n aanklag nie, die molesteerders beskerm word of bloot omdat die kind self te jonk is om die misdaad aan te meld.
Een van die eerste stappe wat geneem sal word is om skole te versoek om aanmeldingshouers, soos posbusse, in badkamers te plaas waarin notas geplaas kan word deur kinders wat geteister word deur seksuele molesteerders, boelies of enige ander tipe teisteraars.
Lorette Dye, ‘n berader van Pretoria met ‘n Meestersgraad in seksuele molestering, is bereid om maandeliks 2 dae in Thabazimbi deur te bring vir berading van sulke gevalle. Daar word ook beoog om ‘n groter bewustheid van hierdie verskynsel onder onderwysers en ouers te kweek deur projekte te loods en praatjies te lewer. In Junie vind die Kinderbeskermingsweek plaas waartydens skole en kleuterskole besoek word om groter bewustheid te kweek.
In die toekoms sou rolspelers wat betrokke is by die behandeling van kinders wat gemolesteer is ook die ontwikkeling van ‘n infrastruktuur (soos ‘n huis met voldoende speelgoed en sandput) wou sien waar kinders deur middel van spelterapie gediagnoseer en behandel kan word. Volgens dr Tessa van Wijk het sy reeds begin met die versameling van speelgoed vir hierdie doel, ten spyte daarvan dat haar spesialisveld nie een van seksuele molestering is nie.
Jong kinders wat seksueel gemolesteer is, vertel dikwels nie hul ouers of ander volwassenes nie, ten spyte daarvan dat hulle geleer is om dit te doen. Hulle besit nie altyd die woordeskat nie of hulle word aangemoedig om dit geheim te hou, as gevolg van een of ander houvas wat die molesteerder op die kind het, soos byvoorbeeld dat hulle aandag en liefde van die molesteerder kry waarna die kind mag smag. In 80% tot 90% van gevalle is ‘n seksuele molesteerder bekend aan die kind. Soms word die kinders gedreig of hulle is skaam of hulle dink die molestering is normaal en op hierdie manier bly die ouers in die duister.
Dis nie ongewoon vir ‘n kind om lang leidrade te gee oor wat met haar/hom gebeur voordat hulle dit vertel nie. In kinders tussen die ouderdom van 2 en 5 jaar wat gemolesteer is, verander hulle gedrag dikwels en raak hulle ondissiplineerd en gee uiting aan woede-uitbarstings. Daar is ‘n groter mate van angs en slaapversteurings (soos nagmerries en loop in die slaap) en wantroue in, byvoorbeeld, mans, vroue of sekere plekke. Sommige onttrek hulle aan normale situasies, soos sport by die skool en hul ouers se geselskap. Sommige raak betrokke by seksuele speletjies met maatjies, masturbasie of skielike belangstelling in sy/haar privaatdele of begin weer jonger optree en verloor vaardighede soos taal, toilet- en tafelmaniere. Daar mag klagtes wees oor ‘n seer liggaam sonder enige mediese verklarings of fisieke tekens soos rooiheid, jeukerigheid, opgeswelde privaatdele of anus, asook kneusplekke.
In gemolesteerde kinders tussen die ouderdom van 6 en 11 jaar kom soortgelyke simptome voor as in die jonger groep asook persoonlikheidsveranderinge, ‘n onvermoë om te konsentreer en toiletglipsies. Hulle bekommer hulle dikwels daaroor dat hulle verantwoordelik was vir wat met hulle gebeur het en probeer die ouers spaar deur hulle nie van die voorval te vertel nie. Hulle kan hulle egter ook, nes die jonger groep, onttrek, aan slaapversteurings ly en eksplisiete seksuele gedrag openbaar of abnormale kennis daarvan. Hulle ervaar ook terugflitse van die molestering wat tot intense ongemaklikheid lei, en dan oorslaan in woede en hartseer.
Ouers kan kinders help beskerm deur hulle van kennis en seksopvoeding te voorsien, te weet waar hulle is te alle tye en hulle nie heeltemal alleen te los om take te verrig nie. Wees op die uitkyk vir ‘n verandering in hul gedrag en tree onmiddellik op indien daar vermoed word dat die kind blootgestel is aan seksuele molestering en verwyder hulle onmiddellik uit die situasie.
‘n Kind wat gemolesteer is moet deur ‘n dokter en berader ondersoek word. Die saak kan hierna verwys word na ‘n maatskaplike werker en polisie indien dit verkies word. Ouers benodig ook hulp en ondersteuning, omdat dit soms vir hulle nog moeiliker as vir die kind is, omdat hulle die implikasies van die daad beter besef as die jong kind.
Enigeen wat belangstel om ‘n rol te speel tydens Kinderbeskermingsweek in Junie, kan die reëlingsvergadering op Dinsdag 5 Mei om 09:00 in die Gereformeerde Kerksaal (h/v Frikkie Meyer- en Knoppiesdoringlaan) bywoon.
Enigeen wat betrokke wil raak, meer inligting wil hê, ‘n aanmelding wil maak of ‘n bydrae wil maak vir die slagoffers van seksuele molestering kan Estie by 072 081 5532 of Tessa by 082 804 9886 skakel.