Bedrywige lang naweek by gholfklub

THABAZIMBI – Vir die sportliefhebber was die afgelope langnaweek ‘n fees gewees. Daar was puik rugby, naelkou krieket en hartseer Meesters gholf waar ons manne maar lelik uit die bus geval het. Ons gholfbaan was ook die hele naweek baie bedrywig met talle besoekers wat ons skoonvelde beproef het. Saterdag 11 April was die amptelike kompetisie Bonus Syferspel. Die kompetisie word gewen deur Harry Bense van Amandelbult met ‘n +6 wat ‘n besonder goeie rondte moes gewees het. Bernie Gous (+2), Ettiene le Roux (+2) en Louise van Graan (+1) was die ander wenners.
Saterdag 18 April word ‘n baie interessante kompetisie aangebied. Dan speel die Jonges teen die Oues. Waar die grens gaan wees sal natuurlik afhang van hoeveel spelers daar gaan wees.
Weens verskeie omstandighede sal daar hierdie maand nie ‘n Sages byeenkoms wees nie. Johan Barnard gaan wel volgende week aan die Nasionale Kampioenskappe aan die Oos-Rand deelneem. Die volgende plaaslike byeenkoms is die Waterberg Kampioenskappe van 5 en 6 Mei op Nylstroom se Koro Creek baan. Sageslede wat belangstel moet asseblief voor 30 April reageer sodat die nodige reëlings ten opsigte van reis en verblyf getref kan word. Sien asseblief u Sages Nuusbrief.
Die nuwe voorgee-stelsel wat nou reeds so ‘n jaar of twee in werking is bly steeds ‘n kontroversiële punt. In al wat ‘n gholftydskrif is word die stelsel gekritiseer omdat daar onder die stelsel gereeld met onwerklike tellings gewen word. Die probleem is blykbaar dat klubs nie konsensieus die voorskrifte toepas nie en spelers nie al hulle tellings gereeld toevoer nie.