Kumba-Marakele Marathon het Comrades status

THABAZIMBI – Reeds van Vrydag af het die opwinding begin toeneem soos wat organiseerders en helpers hard gewerk het om alles gereed te kry vir die eerste, offisiele Kumba Marakele Marathon en 20km wedlope wat Saterdag 28 Maart in die Marakele Nasionale Park aangebied is. Twee skeidsregters vanaf Atletiek Suid-Afrika (ASA), Limpopo streek, was hier om toesig te hou dat alles volgens die boek gebeur. Hulle was tevrede en die 42,2km marathon kon sy Comrades-kwalifiseerder status behou.
‘n Totaal van 44 atlete, waarvan 6 vroue was, het aan die baie moeilike standaard marathon (42,2km) deelgeneem. 87 atlete het aan die 20km deelgeneem. Sonder uitsondering het elkeen van die 131 atlete aangedui dat hulle volgende jaar weer hier gaan wees! Daar was ook besonder positiewe terugvoer omtrent die goed toegeruste waterpunte, en veral oor die entoesiasme van die Thabazimbi helpers by die waterpunte.
Hoewel nie almal die enkellopende olifant bul gesien het nie, of die renoster koei en haar kalfie by die eerste kilometer merk nie, was almal dit eens dat hul heelpad veilig gevoel het. Meeste atlete het saamgestem dat dit ‘n wonderlike voorreg was om in die pragtige natuur van Marakele Nasionale Park deel te neem.
In die week na die marathon het die organiseerders van die wedlope reeds uit verskillende oorde versoeke gekry om volgende jaar meer betrokke te wees by die wedloop. ASA het ook hul gelukwensing aan die organiseerders gestuur.
Die Thabazimbi Marathon Klub, en spesifiek die organiseerders van die wedloop, wil graag elkeen wat betrokke was by die aanbieding, en elkeen van die deelnemers bedank vir ‘n onvergeetlike dag!
Uitslae: 42,2km
Mans – oop kategorie:
Eerste: Thebe Hikwane, Sesheng Athletic Club, 21jr, 2:49:17
Tweede: Simon Ramashapa, Corobrick, 44jr, 2:49:54
Derde: Lukas Seleka, Run Walk for Life, 28jr, 3:07:03
Vroue – oop kategorie:
Eerste: Karen Rautenbach, CSIR, 30jr, 3:44:48
Tweede: Zani van Rensburg, Thabazimbi, 38jr, 3:57:40
Derde: Benise Geyser, SANDF, 26jr, 4:03:19
Uitslae: 20km
Mans – oop kategorie:
Eerste: Piet Banda, Eskom Gijima, 17jr, 1:10:00
Tweede: Victor Mugwara, Temp, 26jr, 1:10:26
Derde: Moses Kgoatle, Northam, 36jr, 1:11:34
Vroue – oop kategorie:
Eerste: Rosslyn Makutu, Sesheng Athletic Club, 27jr, 1:36:43
Tweede: Wilma Pienaar, Thabazimbi, 39jr, 1:46:00
Derde: Elize Pelser, Thabazimbi, 37jr, 1:46:00