Jonges uitgedaag in gholf

THABAZIMBI – Die eerste Saterdag van elke maand is dit tradisioneel Slagspel. Dit was dan ook so verlede week en daar is goeie gholf gespeel. Jakkie van der Wateren speel net 66 om loshande te wen. Jeanette Rall (70), Nita Barnard en Charlie Penzhorn (albei op 72) was die ander wenners. Verlede Woensdag se Sonsakker is gewen deur Johan Barnard. Vrydag was dit ook die tweede rondte van die Interaksie Gholf en hier was die wenpaar Sarel Marais en Vollie Volschenk.
Eerskomende Saterdag die 11de, is dit Bonus Syferspel (Bogey). Donderdag 16 April speel die Sages weer op Koro Creek, dis nou Nylstroom. Maar Saterdag die 18de gaan daar weer ‘n slagting plaasvind as die astrante Jonges teen die ervare en besadige Oues te staan kom. Skryf gerus in vir hierdie twee kompetisies, veral die jonges, want julle sal almal se poginkies nodig hê.
U kan gerus in die “Complete Golfer” van April Johan Botha se artikel lees waar hy skryf dat dit vir hom voorkom of baie van die huidige gholfspelers nie meer kan lees nie. Dit is vir hom net onverstaanbaar hoe dat spelers nie die paar eenvoudige voorskrifte ten opsigte van plaaslike reëls en kleredrag nie kan lees of verstaan nie, dan wil hy nie eers van die gholf- en etiketreëls praat nie. Of het ons maar deel geword van die Nuwe Suid-Afrika mentaliteit waar ons nie meer respek het vir dit wat reg is nie.