Sake lyk reg vir die Wildspotjiekoskampioene

THABAZIMBI – Dinge lyk reg vir die Expo se Potjiekoskompetisie en die meester potjiekosmakers kan maar nader staan vir die langslopende en enigste wildspotjiekoskompetisie in die Suidelike halfrond (die Noordelike halfrond het nog nie eens hiervan gehoor nie).
Pryse vir hierdie prestige potjiekoskompetisie stroom steeds in en op hierdie stadium kan ons reeds bekend maak dat daar twee naweke by lodges op die spel is. Daar is ook ‘n rooibok, waarskynlik klaar geslag. ‘n Paar brandewyn hampers is dalk ook op die spel en dan is daar ook iets vanaf Midas se kant. By die potjiekoskompetisie is daar mos altyd iemand wat nie sy lepel uit ander mense se potte kan hou nie en alewigdeur aan die roer is. Daardie een gaan vanjaar vasgevat word, maar daar kan dalk ‘n lekker verrassing op hom of haar wag. Ons kan net sê dit het iets met ‘n woer-woer in gemeen. So van Lodges gepraat. Stuur gerus julle meesterkokke om te bepaal wie die bosveld se voorste wildspotjiekokke is.
Die groot nuus is dat ons vir Gerrie Pretorius die hele dag net by die Wilspotjiekoskompetisie gaan hê waar hy as een van die beoordelaars gaan optree. Gerrie sê dat hy reeds baie hierna uitsien en wil graag die vriendelike mense by die potjies ontmoet. Hierdie is ‘n gratis saamkuiergeleentheid vir al sy bewonderaars.
Indien u wil inskryf moet u gou speel. As gevolg van strenger toegangbeheer is dit uiters noodsaaklik dat u vooraf moet inskryf. Jou kwitansie, wat bewys daarvan is dat jy jou inskrywingsgelde betaal het, moet by die hek getoon word wanneer jy jou toegangsgeld tot die terrein betaal, indien jy jou kookgoed vroeg die oggend van die kompetisie wil gaan aflaai. ‘n Spesiale reëling is met die organiseerders getref dat deelnemers vanaf 07:00 op Saterdag 2 Mei spesiale toegangspermitte kan kry om hulle toerusting met die voertuie by die gewone plek waar die kompetisie jaarliks aangebied word te gaan aflaai. Die voertuie moet voor 08:00 vanaf die terrein verwyder word en die manne by die hek gaan vanjaar toesien dat dit wel gebeur.
Soos gewoonlik is Die Kwêvoël weer in beheer van die aanbieding van die potjiekoskompetisie en die reëls is dieselfde as vorige jare. Elke span sal amptelik uit nie meer as vier deelnemers bestaan nie. Dit beteken glad nie dat jou vriende en familie nie saam met jou om die potjie kan kuier nie. Die Wildsfees is mos ‘n kuierfees by uitstek. Solank jy net nie jou buurman verdring nie is almal welkom om saam te kuier.
Inskrywingsfooi beloop vanjaar R100 per span en alle deelnemers asook hul vriende en familie moet hulle eie toegang by die hek betaal. Toegang is nie by die inskrywingsgeld ingesluit nie.
Die fokus is weereens op die pot en wat daar binne is. Die hoofbestanddeel moet wildsvleis wees. Ander vleis mag bygevoeg word vir addisionele geur of vet. Aangesien meeste mense verkies om wildsvleis vooraf te marineer, mag dit gedoen word solank dit nie vooraf gekook word nie.
Alle ander produkte wat gebruik word moet rou wees. Rou deeg wat vooraf by een van die bakkerye aangeskaf word is ook nie aanvaarbaar nie. Geen blikkieskos mag gebruik word nie en al die geregte moet in gietysterpotte op oop vure voorberei word. Slegs gewone hout of houtskool mag gebruik word en geen gasbraaiers of gasstowe sal toegelaat word nie.
Een verskil is dat afskrifte van al die potbestanddele en spyskaarte voor beoordeling by die beoordelaars ingedien moet word. In die verlede is daar te veel rondgetas oor wie wat in hulle potte gehad het om ‘n behoorlike verslag van die kompetisie te gee. Hierdie reëling sal ook die taak van die beoordelaars vergemaklik terwyl hulle die potte beoordeel.
Inskrywingsvorms is by Die Kwêvoël  kantoor in Tweedelaan Thabazimbi beskikbaar. Vir meer besonderhede skakel Die Kwêvoël by 014 777 1621 of stuur e-pos aan kwevoel@kwevoel.co.za.

Gerrie Pretorius gaan vanjaar die hele dag vanaf 10:00 tot die pryse oorhandig word, saam met die deelnemers by die Potjiekoskompetisie tydens die Thabazimbi Expo kuier. Al neem jy nie deel nie, kom maak ‘n draai en knoop ‘n geselsie aan.