Gelaaide prystafel en grootste borgdag vir gholf

THABAZIMBI – Een van die grootste borgdae nog van die Thabazimbi Gholfklub is verlede Saterdag aangebied met 68 spelers wat ingeskryf het. Die borge was Suid-Afrikaanse Brouery, Standard Bank, Atlantic Compnet en Thabazimbi Koelkamers. Die prystafel was gelaai met pryse van bykans R15 000. Die man agter hierdie groot dag was Charlie Penzhorn. Groot dank en waardering aan die borge en Charlie vir die baie suksesvolle dag.
Dit was ‘n Beterbal Stableford kompetisie. Die wenners was J Selokela en J Sikwane (45), K Viljoen en F Grobler (45).Vier pare eindig op 43 punte naamlik J Shongwane en J Tisane; H Bredenkamp en J van Graan; E Behrens en JJ Behrens; C Bronkhorst en T Bronkhorst. Tydens die prysuitdeling het daar ‘n veiling van gedenkwaardighede plaasgevind onder die bekwame leiding van Nico van der Westhuizen. Die fondse wat deur die dag geïn is gaan vir die opgradering van die klub se kleedkamers.
Die verversings deur die dag is verskaf deur Corné, die dame wat nou ook ‘n restaurant by die Gholfklub bedryf. Die restaurant is ook oop vir die publiek en u kan gerus van hierdie nuwe fasiliteit gebruik maak. Veral die Sondagmiddagetes is besonder smaaklik. Kontak haar by die Gholfklub.
Nog ‘n nuwe fasiliteit wat nou ook by die Gholfklub beskikbaar is, is die dryfbaan. Jaco Niemand en Esmé Behrens bedryf dit en is ook beskikbaar om lesse aan te bied. So almal wat nou al lank so dreig om gholf te kom speel maar te bang was om die bal mis te slaan kan nou les kom neem en binne ‘n kort tydjie met van die baie pryse wat gereeld te wen is wegstap.
Na ‘n baie goeie reënjaar is die baan tans in ‘n puik, maar moeilike toestand. Die baan is ‘n ware toets vir gholf en besoekers spreek gereeld hulle verbasing uit oor die baan en veral die setperke se puik toestand. Baie dankie aan Eddie Williams en sy span vir hulle harde werk.