Thaba se eie Fear Factor

THABAZIMBI – Vroegoggend op 14 Maart het die braafstes van die brawes op die skougronde bymekaar gekom om die eerste geleentheid van sy soort in Thabazimbi aan te durf. Ongeveer 20 spanne van twee lede elk het vir die eerste van twee rondtes aangemeld. Min het hulle geweet waarvoor hulle hulself ingelaat het. Daar was 11 items wat voltooi moes word waarvan meeste tydgebonde was. Die eerste item was ‘n ongewone potjie tennis. Die balle was oorryp en vrot vrugte wat uitmekaar geval het nog voor dit opgetel kon word, wat nog te sê te dien as “tennisbal”. Volgende het elke spanmaat ‘n beurt gekry om met ‘n fiets oor ‘n seepgladde ryvlak te ry en moes die item voltooi het in slegs 1 minuut. Elkeen se fietsry vernuf was behoorlik op die proef gestel. Met item drie moes waterballonne uit ‘n swembadjie vol water geduik word, maar geen hande mag gebruik word nie slegs monde en skielik was dit maklik om jouself te verdrink!
Item nommer 4 was letterlik ‘n stront-spul. Bolletjies beesmis moes deur een spanmaat gerol en geslaan word terwyl die ander spanmaat die oorblywende stukkies moes vang sonder om te beweeg. Die spanmaat wat moes vang het natuurlik die slegste daarvan afgekom. Daarna was die deelnemers se hand-en-voet koördinasie getoets deur op 2 planke te loop met 2 bene onderskeidelik op een slag. Dit was regtig nie so maklik nie, jou links was jou regs en jou regs was jou links. By item nommer 6 moes die deelnemers met “Gum-boots” vol water oor hekkies klim en so min as moontlik water mors, sonder om aan die hekkies te raak. Dit was ‘n uitdaging en ‘n half. Die misgevulde sloot was item nommer 7 Deelnemers moes so vinnig as moontlik deur die sloot kruip. Die reuk was dodelik en party deelnemers het sommer in die proses ‘n happie stront ook ingekry wat hulle alreeds naar gemaak het nog voor hulle naby die eet-gedeelte gekom het.
By item nommer 8 het dit net gegaan oor tyd. Die een spanmaat moes die ander een in ‘n kruiwa stoot om dan ‘n slot oop en toe te sluit. Die vangplek by hierdie item was dat die deelnemers ‘n bos sleutels gekry het, waarvan net een die regte sleutel was wat in die slot gepas het. Visvang was nog nooit so moeilik nie. Gedurende item nommer 9 moes een van die spanlede in ‘n kwessie van twee minute soveel as moontlik glibberige barbers met hul kaal hande gevang het wat in modderwater rondgeswem het. Die spanlid wat die barber gevang het moes dit dan vir die ander spanlid aangee wat dit in ‘n aparte bak moes sit. Die modderwater het die barbers natuurlik onsigbaar gemaak en dit het ‘n hele glibberige, grillerige episode geword. By die voorlaaste item moes die deelnemers hul balans mooi hou deurdat hulle met ‘n vol glas water oor ‘n seepgladde hindernis moes klim en al die water in die glas probeer hou en natuurlik was dit tyd-gebonde. Die wat nie kon oorkom nie het swaargekry en sommer langs die kant om geswaai tot aan die anderkant of sommer oorgegly. Wat is Fear Factor sonder ‘n paar peuselhappies. Hierdie item het baie toeskouers se aandag getrek en die spanne se braafheid behoorlik getoets. Voorgereg was, grawe jou eie erdwurm uit die grond en eet, daarna moes ‘n beesknater verorber word en vir hoofgereg was daar rou hoenderlewertjies. Die drankie wat voorgesit is om hierdie nare spul mee af te sluk was ‘n bloedmengsel met knoffel en chilliesous. Die item beampte, Koos Jacobs van Dreiers, het darem gesorg vir ‘n groot asblik vir die deelnemers wat die item nie kon voltooi nie, maar meer as een keer was die grasperk die naaste! Die groot prys van die dag was ‘n kontantprys van R2000, Sanlam het ook pryse onder andere wynsakke, koelsakke, sleutelhouers en toiletwaresakkies geborg. Voorwaar ‘n geleentheid wat vir groot opwinding gesorg het en defnitief die moeite werd was om by te woon.