Rhinos klop Brits op hul eie veld

Jan Engelbrecht

BRITS – Dit was ‘n klipharde stryd toe die twee spanne van Brits en Northam Plats se Rhinos mekaar Vrydagaand op Brits se veld gepak het.
Brits, wat in die Carlton liga speel, het nie geweet wat hulle tref toe die manne van skuins buite Thabazimbi hulle geskok het met drie drieë binne die eerste halfuur en in hulle gesigte geboer het  nie. Brits het moedig probeer en hulle gevaarlike agterlyn het alles in die boek probeer maar die Rhinos was net te sterk en te gemotiveerd.
Brits het ‘n baie goeie agterlyn en as hulle nie so baie tierlantyntjies probeer het nie kon hulle dalk meer gate geslaan het in die Rhinos se agterlyn. Die Rhinos met André Genis aan die voorpunt het die Brits manne egter geen beweegruimte gegee nie. Die name van Mark en Rory Gresswill moet ook genoem word. Die twee manne was ‘n doring in die vlees van die Brits voorspelers en het die vuur aangesteek wat die Rhinos nodig gehad het om voorlangs te oorheers.
Halftyd was die Rhinos met 19-3 voor en het op dieselfde trant die tweede helfte voort gesit. Die rooikop Mark is met ‘n geelkaart van die veld af, maar op daardie stadium was die telling 24-8 in die Rhinos se guns. Brits het toe nog twee drieë aangeteken wat die eindtelling op 24-18 te staan gebring het.
Die hele Rhino span het uitgeblink en as hulle die tipe rugby speel sal hulle moeilik gestop word die seisoen. Punte makers aan Rhinos se kant met drieë was Eric Mdyogolo, Flip de Kock, André Genis en Gabriel. Flip slaag ook met ‘n doel en strafskop.
Die tweede span het stadig begin en die eerste helfte agtergeloop met 17-0. Ter versagting moet seker gesê word dat die skeidsregter eers die tweede helfte opgedaag het. Een van Brits se manne het die eerste helfte geblaas. Hy was duidelik nie ‘n ervare skeidsregter nie en het nie die reëls geken of toegepas nie.
Die tweede helfte het die Rhinos 12-0 gewen en die eindtelling was 17-12 in Brits se guns.
Vanjaar se Waterberg-seisoen gaan baie hard wees en Thabazimbi, Mogol en Rhinos gaan die klubs wees wat die pas gaan aangee, die ander sal maar volg.