Bekende inwoner oorlede

THABAZIMBI – ‘n Bekende inwoner van die omgewing, tannie Miemie Venter van Northam is Woensdag 11 Maart na ‘n siekbed in die Swartklip Hospitaal oorlede. Sy was 71 jaar oud.
Tannie Miemie en haar man, oom Peet Venter het vir die grootste deel van hul getroude lewe op die familieplaas Hartebeeskoppies naby Chromite gewoon. Hiervandaan het hulle na Hoëbome in die Boshoek omgewing getrek. Daarvandaan is hulle na Swartruggens en het toe uiteindelik teruggekeer na Maroelasfontein.
Na oom Peet se afsterwe het sy en haar tweelingsuster, Dorie Haliday by haar oudste seun Ockert op Northam gaan bly. Hier het sy gebly tot haar afsterwe.
Sy word oorleef deur haar kinders Wilna, Rina, Ockert, Cobus en Peet asook 11 kleinkinders en ses agterkleinkinders.
Die begrafnis was op Maandag 16 Maart vanuit die Gereformeerde Kerk Gemeente Drieviersboom op Northam.