Laerskool Thabazimbi besoek Wetenskap skou

PRETORIA – Laerskool Thabazimbi het 27 toppresteerders op 4 Maart 2009 na ‘n Wetenskapskou te Pretoria geneem.
Die toppresteerders bestaan uit Gr 5 – 7 Wetenskap leerders wat 90% en hoër in dié vak behaal het. Hierdie skou wat op die Pretoria skougronde plaasgevind het, het verskeie vertonings aangebied waarvan drie deur die leerders bygewoon is.
Tussendeur die vertonings het die leerders die geleentheid gekry om na verskillende uitstallers se produkte te kyk. Die Kernkragstalletjie was volgens die leerders een van die interessantste stalletjies waar hul geleer het dat die Geigermeter die radio-aktiewe bestraling betyds waarneem.
Die eerste vertoning wat deur mnr Eddie Young aangebied is, het die leerders gewys dat ‘n mens eintlik met enige iets ‘n eksperiment kan doen. Mnr Young het eksperimente oor water, lug, lugdruk, massa, digtheid en Newton se wette gedoen.
Die indrukwekkende tweede vertoning wat deur WITS Universiteit se Fisika Departement aangebied is, was oor hoë-stroom elektrisiteit, statiese elektrisiteit en die kleurspektrum waar die leerders ook die geleentheid gehad het om na ultrasoniese klanke te luister. ‘n Laservertoning het deel uitgemaak van hierdie eksperiment en het die leerders gaande gehad met al die rook, ontploffings, vonke, harde klap geluide ensovoorts, wat hul self kon ervaar. Die leerders het natuurlik na hierdie sessie besluit Wetenskap is ‘n moet.
Met die derde vertoning wat deur die LABRATS aangebied is , moes die leerlinge verskillende strukture bou. Hulle is ook gewys hoe die verskillende hefbome werk. Volgens Juffrou Hantie Voster het die leerders dit baie interessant en leersaam gevind en die dag terdeë geniet.