Kumnandi Fly-In 2009 is op hande

THABAZIMBI – Die lugruim om Thabazimbi gaan op 30 Mei 2009 behoorlik brul met Harvard, Tiger Moths en vele meer met die Kumnandi Fly-In wat hierdie jaar by die Thabazimbi vliegveld aangebied word.
Groot voorbereidings vir hierdie heelwat groter vliegdag is tans by die plaaslike vliegveld aan die gang. Die pretdag is weer soos verlede jaar ten bate van ‘n liefdadigheidsprojek.
Die mikpunt van die jaar is om meer as 60 vliegtuie hier in Thabazimbi vir die dag te verwelkom. 56 het reeds bevestiging hiervan deur gegee. Verlede jaar was daar 45 vliegtuie van alle soorte en grotes te Kumnandi Lapha Gastehuis. Soos altyd beloof dit om ‘n spog geleentheid te wees waar tydens die vlieëniers hul staal kan kom wys met “spot landings” en meelbom gooi.
Kumnandi beloof ‘n dag met baie meer as net vlieg manewales. Coca-Cola borg die verhoog vir die gaskunstenaars Hans Drommedaaris, Rea le Roux, Armand Hofmeyr en Ferdi Reo, soos gereël deur Kumnandi Lapha Gastehuis. Allerlei uitstallings, stalletjies en vermaak word beloof vir oud en jonk.
Die Fly-In komitee en die Thabazimbi Vlieg Assosiasie wil ook graag hul dank uitspreek vir die hulp met ontbossing verleen deur WESagri. Die WESagri manne het ongeveer 1,4 hektaar langs die aanloopbaan ontbos om genoegsame spasie te verkry vir al die jolyt. Sonder sulke oop hande is geleenthede soos die nie moontlik nie. Enige ander besighede of persone wat hul weg oopsien om te help met borge is meer as welkom.
Soos wat die organiseerders inligting bekend maak oor die dag sal dit op hul web blad http://kumnandiflyin.blogspot.com/ aangeheg word.