Ons lesers skryf – Lafaards op straat

Hierdie rig ek spesifiek aan die twee jong manne?, dalk liewer seuns, in ‘n wit karretjie, wat verlede Donderdagmiddag om 16:50 soos besetenes in 8ste Laan afgejaag het en, volgens ‘n ooggetuie, doelbewus op ons grys kat afgepeil het en haar doodgery het.
Julle het gedink dis ‘n groot grap en vreeslik gelag daaroor, maar soos lafaards nie eens gestop om te kyk of sy nog lewe nie net weggejaag voordat iemand julle sien – wel iemand het!
Daardie kat was my dogter se oogappel en geliefde troeteldier, nie dat dit julle enigsins geraak het nie. Julle het haar met so ‘n geweldige spoed getref dat ons die slag in die huis gehoor het. Wat sou jy gedoen het as ‘n kind uit die hek oor die pad agter haar aan gehardloop het?  Seker ook maar weggejaag het soos lafaards doen.
Jy hou dalk nie van katte nie, maar ons in 8ste laan is moeg vir  jong idiote wat ons straat as ‘n renbaan gebruik. Ons dorp is besig om in die afgrond te gaan en dit danksy gomgatte soos julle wat dink alles is ‘n grap – selfs die lewe van ‘n onskuldige kat. Ek hoop jy of jou ouers lees hierdie  want geen mens kan trots op iemand soos jy wees nie, jy respekteer niks en niemand nie.
Hoe lank gaan dit nog aangaan, dat verkeersowerhede besig gehou word met bestuurslisensies wat oor en oor en oor getoets word, maar intussen het dit groot mode onder die jong seuns van Thabazimbi geword om in die dwars strate op en af te jaag.  (Wonder hoe hierdie seuns bestuurderslisensies gekry het?)  Gaan daar gewag word totdat ‘n kind doodgery word, voordat daar teen hierdie jaagduiwels (want hulle is duiwels) opgetree gaan word?

Ek wonder maar net.