Nèll Botha vier 95ste

nell-bothaTHABAZIMBI – Nèll Botha het op 28 Januarie 2009 haar 95ste verjaardag beleef, maar die feesvierings het eers op 21 Februarie 2009 te Trekpad Safari’s plaasgevind.
Haar hele familie en jarelange vriende het haar verjaardag bygewoon met die tema – Die Romeinse Ryk. Ouma Nèll is as Keiserin met ‘n drastoel deur haar onderdane op haar triomftog die paleis ingedra en die skare het haar gesalueer met palmtakke as erkenning vir haar rol oor die afgelope 95 jaar in hul lewens.
Die klein Cornelia Petronella Janse van Niewenhuizen is in die Witbank distrik op 28 Januarie 1914, die jaar van die Rebellie in Suid-Afrika, gebore. Na haar skoolopleiding het die beeldskone Nèll as aktrise en vioolspeler saam met die Toneelgroep van Paul de Groot deur die land getoer en was sy as gewilde aktrise een van die baanbrekers van die Afrikaanse Toneel in Suid-Afrika.
Sy is later met Gottlieb (Gum) Botha getroud en hulle op Davel gevestig waar hulle die Hotel besit het. Ouma Nèll was hier die bestuurder, ontvangsdame, kok, kelner en skoonmaker.
Pootuit en finaal genees van die hotelbedryf is hulle na Witbank waar hulle hulself in die slaghuis bedryf begewe het. Hier in Witbank was sy blokvrou, kassiere, huisvrou, ma van 5 kinders en besigheidsbrein. Sy en haar man het aan die einde van hul besigheidsloopbaan ‘n klein-en groothandel vleisbedryf asook ‘n kafee, bottelstoor en bakkery. Met haar man Gum se dood in 1987 is die besigheid na die kinders en het sy afgetree.
Die afgelope vier jaar is sy ‘n inwoner van Thabazimbi waar sy deur haar dogters Elbie en Adri bygestaan word. Na twee heupvervangings hou sy nog huis, lees sonder ‘n bril en haar hoofstokperdjie is om voorbidding te doen vir almal. Daarom kry ‘n mens haar dikwels op haar knieë in gesprek met haar Here.
Baie geluk ouma Nèll.