Is dié visie ‘n droom? “LED” (Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling – Local Economical Development) onder bespreking

Thabazimbi Municipality Vision: “To be the leading Municipality that offers quality services to the broader community in the most Economic, Affordable, Equitable and Sustainable manner” (www.thabazimbi.gov.za)

THABAZIMBI  – Die Thabazimbi Munisipaliteit het, soos ons verlede week berig het, die “Vuva Award” op provinsiale- sowel as nasionale-vlak vir “Local Economical Development” (LED) verower. Hierdie toekenning word gemaak uit erkenning vir ‘n plaaslike munisipaliteit se pogings tot werkskepping.
Soos dit wel bekend is, is die myne in die Thabazimbi Munisipaliteit-gebied werkgewer vir 95% van die werkende inwoners in die gebied. Dit maak hulle die grootste werkgewer en daarmee saam verseker dit ook dat Thabazimbi Munsipaliteit van die laagste werkloosheidsyfers in die hele Limpopo Provinsie het. Iets waarop die ander munisipaliteite in Limpopo nie kan roem nie. Thabazimbi het ook die hoogste  HDI (“Human Development Index”) wat verwys na die standaard van beskikbare menslike hulpbronne en daarmee saam is die armoedevlakke laer in Thabazimbi as in die ander minisipaliteite in die res van die provinsie. Ongelukkig is Thabazimbi Munisipaliteit op die laer ranglyste sover dit die vestiging van informele nedersettings, plaaslike behuising en vullisverwydering aan betref.
Bogenoemde feite het na vore gekom tydens die “LED” seminaar wat Dinsdag 17 Februarie by Rra Ditau by Thabazimbi aangebied is. Die gasspreker tydens hierdie geleentheid was mnr Johan Ackermann van die Universiteit van Stellenbosch, ‘n raadgewende deskundige op die gebied van Plaaslike Ekonomies Ontwikkeling (LED). By die geleentheid het Thabazimbi Munisipaliteit met Kumba as hoofborg as gasheer opgetree.
Ackermann het genoem dat vir party mense is “LED” die towerformule om alles reg te maak. In teenstelling daarmee gaan LED oor die bou van ‘n robuuste ekonomie vir die inwoners van ‘n bepaalde munisipaliteit en gaan dit nie noodwendig net oor werkskeppende en geldgenererende projekte nie. Die meeste probleme wat uit LED voortspruit is die feit dat instansies nie met mekaar kommunikeer nie. Netwerke sal binne die gemeenskap gevestig moet word sodat almal kan saamwerk tot voordeel van die gemeenskap.
LED is nie noodwendig gefokus op dinge wat plaaslik gebeur nie. In sommige gevalle moet daar juis ‘n fasiliteerder van buite insette lewer aangesien dit wat hier plaaslik gebeur afhanklik is van globale, nasionale sowel as internasionale, bedrywe en markte. Dit wat plaaslik geproduseer word, word nie noodwendig plaaslik verbruik nie en dit wat plaaslik verbruik word, word nie noodwendig plaaslik geproduseer nie. LED is ‘n voortslepende proses en elke jaar kom nuwe moontlikhede na vore. Hierdie moontlikhede kan deur LED geïdentifiseer en benut word. LED is nie ‘n welsynorganisasie nie maar is daarop ingestel om inwoners meer produktief tot die voordeel van die gemeenskap te maak.
Die staat kan maar alleenlik die omgewing skep wat voorsiening maak vir plaaslike ekonomiese lewensvatbaarheid. Hierdie basis word gelê deur die drywers van globale en nasionale ekonomië wat uiteindelik die rol van die plaaslike ekonomie aandui. Om hierdie rede is dit noodsaaklik dat daar kommunikasie tussen die verskillende rolspelers sal wees. Mynhuise is nie juis bekend daarvoor dat hulle inligting met die gemeenskap deel nie, en hulle het seker hul redes daarvoor. Maar vir LED om te slaag sal hulle juis van hierdie inligting moet begin deurgee aangesien die globale mark ‘n groot invloed kan hê op dit wat plaaslik op die ekonomiese front gebeur.
Ackermann het gesê dat daar twee kategorië van ekonomiese bedrywighede binne elke plaaslike gemeenskap bestaan.
Eerstens is daar die plekgebonde ekonomie wat insluit bedrywe soos mynbou en landbou waar daar nie eintlik vryheid van beweging is nie. Myne bied beperkte lewe en indien daar groot omkering in die bedryf is kan dit beteken dat hulle werksaamhede staak en die werkers, wat in die eerste instansie van buite die gebied gewerf is, na nuwe werksmoontlikhede gaan verskuif. Dieselfde geld vir die meeste van die toeriste-aantreklikhede waar jy nie riviere, berge en mooi natuurskoon kan verskuif nie.
Die ander is die sogenaamde losvoetige (“footloose”) industrië wat enige plek kan vestig. Hier gaan dit oor sake soos om die rou materiaal na die fabriek te bring wat miskien nader aan die afsetgebied is, of om die fabriek na die roumateriaal te skuif aangesien die vervoer van die roumaterial dalk groter probleme kan skep. Die meeste nywerhede vestig hulle naby die plekke waar verstedeliking plaasvind aangesien hierdie gebiede die grootste afset vir hul produkte bied. Selfs toerisme-instansies kan onder hierdie kategorie sorteer soos in die geval van Sun City waar ‘n kunsmatige omgewing geskep word. Buiten vir toerisme is daar in Thabazimbi min industrië wat die beskikbare menslike hulpbronne kan benut.
Ackermann het daarop gewys dat die ekonomiese opset van Thabazimbi met ‘n ui en sy lae vergelyk kan word waar Thabazimbi die kern van die ui vorm. Die buitenste lae bestaan uit die globale ekonomie en aangesien Suid-Afrika se ekonomie nou-gebonde aan die ekonomië van die Westerse wêreld is, is daar tans groot magte wat negatief hierop inwerk. Die markte wat nou die beste presteer is die Oosterse markte met China die grootste groeiende ekonomie in die wêreld. Kort op sy hakke is die Midde Ooste gevolg deur Indië. Al hierdie markte is vreemd vir Suid-Afrika en dus ook vir Thabazimbi. Al hierdie nuwe markte kan ‘n dryfveer wees vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling.
Ackermann het voorts gewaarsku dat die versnellende pas van verandering die kultuur in Suid-Afrika in botsing met die globale spoed gaan bring. Dit kan meebring dat die plaaslike werkers dalk nie hierteen beskerm kan word nie aangesien daar oorgegaan word van ‘n arbeidsintensiewe ekonomie na ‘n tegnies geöriënteerde ekonomie. Om hierdie rede is dit baie belangrik om die kennisbasis van die inwoners uit te brei.
Landbou is een van die duidelikste voorbeelde hiervan waar dit eenvoudig net nie ekonomies haalbaar is om ‘n arbeidsintensiewe boerdery te bedryf nie as gevolg van die feit dat dit oorgelaat is aan die genade van die tegnies geöriënteerde internasionale markte. Dit het reeds tot groot afleggings van arbeiders en minder boere in die landbou gelei.