Onderwys ontvang regmatige deel van nasionale begroting

In ‘n mediaverklaring wat deur die president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, mnr Jopie Breed, uitgereik is, sê die SAOU dat te oordeel aan die begrotingsrede van die Minister van Finansies, mnr Trevor Manuel, dit ‘n gebalanseerde projeksie van die finansiële stand van die land oor die volgende 12 maande reflekteer.  Die begroting en die gevolge voortvloeiend daaruit sal sonder twyfel op elke burger van Suid Afrika ‘n beduidende invloed uitoefen.  Dit bevat die gebruiklike soet en suur, maar ongelukkig laat die benarde stand van die internasionale ekonomie en die onafwendbare impak op Suid Afrika die Minister geen ander opsie as om hierdie realiteite aan te spreek nie. 
Die SAOU verwelkom die verhoogde besteding aan onderwys en oordeel dat die volgende aspekte verdere besinning en hantering verg:
Die onderwysbegroting vir 2009/10 beloop R140.4 miljard van die R738 miljard, of te wel 19%.  Die vuurproeftoets sal egter wees of die 10 onderwysdepartemente die regte verdelingsformules en die besteding oordeelkundig kan toepas en implementeer.  Bepaalde hanteringswyses in die verlede het teleurgestel.
Dit word verwelkom dat daar ‘n vermelding is na die feit dat die vergoedingsstruktuur van onderwyspersoneel ontoereikend is.  In die verband kan daar nie afgelei word of die derde paaiement van die befondsing van die Beroepspesifieke Bedeling vir die Onderwys (BSB) volledig gereflekteer word nie.  Dit is ‘n aspek wat die SAOU so gou doenlik sal wil vasstel tydens formele gesprekvoering met die onderwysowerhede. 
Die uitbreiding van die geen fooi-skole om ook die kwintiel 3 skole in te sluit, word verwelkom, op voorwaarde dat dit aan die volgende voldoen:
Dat ouers wat steeds finansiële bydraes wil lewer om die kwaliteit van onderwys by skole te verbeter, toegelaat sal word om sodanige bydraes te maak;
Dat die befondsingsvlakke van bestaande kwintiel 4 en 5 skole nie verlaag word nie synde die ouers en leerders op dieselfde onderwysregte en finansieringsvlakke geregtig is; en in die lig van die feit dat skole nou in drie befondsingsvlakke (nie meer vyf kwintiele nie) verdeel word, is dit duidelik dat die bestaande regulasies betreffende die norme en standaarde vir die finansiering van skole, spoedig hersien moet word.  Die vertroue word uitgespreek dat die huidige bestuursmodel wat nou na 14 jaar in plek is, ook hersien sal word.  Die SAOU het in die verband reeds omvattende voorstelle aan die nasionale departement van onderwys gemaak.
Die fokus op tegniese skole en die beskikbaarstelling van R2.8 miljard vir die herkapitalisering van hierdie skole, is die beloning op intense gesprekvoering van die SAOU met die departement insake die noodsaaklikheid om hierdie skole daadwerklik aan te spreek.  Die fokus sal nou moet wees op die oordeelkundige aanwending van die fondse en die interpretering van hierdie skole se toekomstige rol.
Die SAOU is ernstig bekommerd oor die kwaliteit van onderwys administrasie en die amptenary.  Die jongslede voorbeeld van administratiewe onbeholpenheid is die bekendmaking van die Graad 12 uitslae.  Indien hierdie sektor nie dramaties aangespreek word nie, sal die onderwysstelsel steeds voort strompel.  Fondse moet vir die doel spesifiek geoormerk word.
Kennis is geneem van die beskikbaarstelling van R31 miljoen vir die vestiging van ‘n nasionale evalueringseenheid wat spesifiek op skole en die kwaliteit van onderrig sal fokus.  Die SAOU verwelkom die onderliggende beginsel, maar die jongslede verslag insake die vestiging van ‘n “National Education Evaluation and Development Unit (NEEDU)” spreek nie die praktykskompleksiteite aan nie.  Verdere dinkwerk in die verband is broodnodig.
Die beskikbaarstelling van addisionele fondse, R330 miljoen, vir die Nasionale Finansiële Studentehulp Skema spreek nie die behoefte aan geoormerkte fondse vir die implementering van ‘n gefokusde werwing- en befondsingskema vir aspirant onderwysers aan nie. Die SAOU is teleurgesteld hieroor aangesien die persepsie is dat die owerheid nie die dringende behoefte van ‘n tekort aan geskikte goed gekwalifiseerde nuwe opvoeders oordeelkundig en gefokus wil aanspreek nie.
Geen afleiding kan gemaak word of spesifieke fondse opsy gesit is vir die jaarlikse algemene salarisaanpassings nie. Kollektiewe ooreenkoms 1 van 2007 van die PSCBC vereis dat salarisonderhandelinge moet plaasvind met die oog op aanpassings met ingang van 1 Julie 2009. Die ooreenkoms vereis verder dat die verskil tussen die 7.5% wat verlede jaar toegeken is en die werklike VPI by die aanpassing gevoeg moet word.  Die verhoudinge by die onderhandelingstafel is reeds gespanne en ‘n aanduiding van beskikbare fondse sou verwelkom gewees het. Die saak moet nou oordeelkundig verder hanteer word in die lig van die feit dat die inflasie gedurende 2008 ongeveer 11.6% beloop het, en dat ‘n gemiddelde VPI van 5% – 7% vir 2009 geprojekteer word.
Die volgende algemene aspekte van die begroting verdien ook verdere vermelding:
Die feit dat 5.3 miljoen burgers belasting betaal terwyl 13 miljoen persone sosiale toelaes ontvang, is uiters kommerwekkend veral as dit vergelyk word met die bevolking wat meer as 40 miljoen beloop. Daadwerklike pogings moet aangewend word om die basis van belastingbetalers dringend te verbreed. Geen land kan bekostig om onbepaald met sementstewels stormagtige waters aan te wil pak nie.
Die verhoging van brandstofheffings, 34%, onder andere ter stuiwing van die Padongelukke Fonds, wie se bestuur nie bo verdenking is nie, word nie verwelkom nie aangesien dit verdere fondse uit die sakke van opvoeders dreineer.
Kennis is ook geneem dat die belasbaarheid van werkgewerbydraes tot mediesefondse verdere aandag sal geniet. Alhoewel die belasting aftrekkingsperk verhoog word tot R625 vir elkeen van die eerste twee lede van die Fonds en R380 vir afhanklikes, word die hoop uitgespreek dat die uitwerking daarvan belastingneutraal sal wees vir opvoeders.
Die vrystelling van kapitaalwins belasting op primêre woonhuise onder R2 miljoen word verwelkom. 
Die aanspreek van fiskale blokkruiping, dit wil sê verhoogde belastingkoerse voortspruitend uit salarisaanpassings, word allerweë verwelkom aangesien R14 miljard vir die doel geallokeer word. Hiervolgens sal opvoeders wat ‘n belasbare inkomste onder R150,000 verdien, 45% van die verligting ontvang terwyl opvoeders wat tussen R150,000 – R250,000 verdien, 22% van die belastingverligting ontvang.
Dit word ook verwelkom dat die beginsel van omgewingsbewaring toenemend in begrotings gereflekteer word.  Dit is veral die uitlaatgasse van motors en plastieksak rommel wat in die verlede kommerwekkend was. Die huidige inisiatiewe van die Minister word ondersteun.