Hondegeblaf dryf buurman tot raserny

THABAZIMBI – Die konstante geblaf van ‘n buurman se hond het ‘n inwoner van Diederikstraat so desperaat dat hy reeds sedert hy ingetrek het in April 2007, elke moontlike wetlike uitweg probeer het om die hond stil te kry, sonder enige sukses. Nou klim hulle maar in hulle motor en “vlug”. Volgens die inwoner van Diederikstraat besit sy buurman ‘n groot bruin hond, Boela, en vier Jack Russels. Wanneer die buurman nie tuis is nie blaf die groot hond onophoudelik en spring teen die muur op, wat reeds begin kraak het. Nie alleen dryf die blawwery hulle tot raserny nie, maar hulle vrees die dag as die hond uit sy aanhoudingsarea kom. Volgens die inwoner het hul lewensgehalte so verswak as gevolg van die blawwery
dat hulle dikwels nie eens televisie kan kyk nie, en “vlug” hy en sy vrou meeste van die tyd van hul huis af, vir ‘n bietjie vrede en rustigheid. Hul seun van Engeland kom eersdaags kuier, maar hulle vrees die besoek sal vir hom ‘n nagmerrie wees. Een derde van hul erf, die strook wat grens aan die hondeienaar se erf word so te sê glad nie gebruik nie. Die groentetuin word verwaarloos want die tuinier weier om daar te werk sonder die bystand van die inwoners uit vrees vir die groot hond. Die inwoners se eie honde is ingekamp in ‘n area weg van die buurman (met die blaffende hond) om te verhoed dat hulle nie naby die betonmuur kom  nie.
Kort nadat die inwoners ingetrek het, het hulle ‘n brief aan die buurman oorhandig in Julie 2007 om die situasie aangaande die hond te verduidelik. In die brief beskryf die inwoner die situasie en sê dat hulle nie die tipe persone is wat vyandig met die bure wil saamleef nie, daarom “vra ek julle baie mooi om die redelikheid van my versoek in te sien”. Nadat daar geen reaksie op die brief was nie, het die inwoners die polisie gekontak. Die polisie het verduidelik dat hulle slegs mag inmeng indien die hond iemand byt of iemand se lewe in gevaar stel.
Daarna het die inwoners hulle tot die hof gewend, maar is deur die landdros meegedeel dat ‘n interdik teen die buurman verkry moet word, teen ‘n koste van R15000, wat finansieel buitensporig was vir die klaer, veral aangesien hy nie die oortredende party is nie. Hierna is die Dierebeskermings Vereniging (DBV) in Rustenburg genader wat die situasie geëvalueer het en bevind het dat die “hond se gedrag nie normaal is 
nie”. Die DBV-inspekteur het ook aanbeveel dat die Thabazimbi Munisipaliteit die saak hanteer, aangesien daar nie ‘n DBV-tak in die dorp is nie. In Rustenburg, lui die verslag, sou die probleem deur munisipale wetgewing aangespreek word, die blawwery as ‘n “public nuisance” beskryf word en die eienaar 24 uur gehad het om iets aan die situasie te doen. Aan die einde van 2007 is die Verkeersdepartement genader en daardie Desember, kort voor Kersfees, is ‘n brief aan die hondeienaar oorhandig waarin hy in kennis gestel word van die klagte oor sy hond wat onophoudelik blaf en dat “indien daar nie daadwerklik aandag aan die klagte gegee word nie, nodige stappe in die verband geneem sal word”. Thabazimbi se munisipale wette bepaal dat “geen persoon ‘n hond sal aanhou wat deur te blaf, kef of tjank, inbreek maak op die gemak en rus en vrede van die bure nie”. Volgens Johnny Motaung, hoof van Beskermingsdienste (en Verkeersafdeling) by die munisipaliteit is die toepassing van die wet problematies, aangesien die boete wat deur die hondeienaar betaalbaar is, belaglik laag is. Die hondeienaar het hom egter die versekering gegee dat hy sy hond in die toekoms beter sal beheer. Die wet maak egter ook voorsiening vir gevangenisstraf van ses maande. Dit maak ook voorsiening vir die addisionele boetes en gevangenisstraf as die oortreding voortgaan. Enige kostes wat die munisipaliteit sou aangaan om die kwessie aan te spreek, kan ook van die oortreder verhaal word. Intussen, so te sê ‘n jaar nadat die brief van die munisipaliteit aan die hondeienaar oorhandig is en daar geen verandering in die hond se geblaf is nie, is daar op 15 Oktober 2008 ‘n petisie deur ses van die bure onderteken waarin kapsie gemaak word teen die “frustrerende en irriterende” geblaf van die hond en die hondeienaar se houding as onmenslik en onaanvaarbaar beskryf word. Vroeg Desember 2008 is daar ‘n forum in Amandelbult deur die hondeienaar byeengeroep om die situasie te bespreek met die klaers. Verskeie voorstelle is gemaak in die teenwoordigheid van die hondeienaar se regsverteenwoordiger. Voorstelle wat tydens die forum bespreek is, was die krimping van die hond se stembande, pallisades aan die voorkant van die hondeienaar se erf sodat die hond in ‘n area kan wees waar hy kan sien wat aangaan en die sosialisering tussen die hond en hoofklaer. Tot dusver het daar egter nog niks van enige van hierdie voorstelle gekom nie en die situasie duur voort. As gevolg van die dooiepunt wat bereik is, het ‘n groep bure van die hondeienaar met twee geleenthede in Desember 2008 probeer om die Verkeershoof, Johnny Motaung, te woord te staan. Een maal was hy te besig om hulle te woord te staan en op ‘n volgende geleentheid het hy nie vir die afspraak opgedaag nie. Aan Die Kwêvoël het Motaung die versekering gegee dat die saak aandag sal geniet. Hy was ook seker dat die nuwe munisipale wette gou in plek sou wees wat beteken dat die Verkeersdepartement groter boetes, wat as ‘n groter afskrikmiddel sou dien, kon oplê.

Volgens die hondeienaar se regsverteenwoordiger was hy onder die indruk dat die situasie beredder is na die vergadering in Desember 2008 en dat die voorstelle by die vergadering geïmplementeer is. Hy sê omdat geen verdere klagtes ontvang is nie, hy gemeen het dat die situasie opgelos is. Hy beweer ook dat die man na wie verwys word as die hondeienaar nie die hond se regte eienaar is nie, maar wel die pa van die eienaar.