Jong Thabazimbi skoonheid aangewys as Joolkoningin

PRETORIA – Baie min mense weet wat die woord JOOL beteken, en dikwels neem hul aan dit is sommer ‘n beskrywing vir studentepret.
Dit het egter begin as ‘n poging deur die studente van die Universiteit van Pretoria wat streef daarna om studente se lewenslus en energie, in goeie dade om te skakel. Hierdie afkorting staan vir: Jou Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid. ‘n Joolkoningin word jaarliks aangewys en is verteenwoordigend van die kriteria waaraan voldoen moet word voordat sy as ‘n finalis kan kwalifiseer.
Vanaf Julie 2008 het 160 JOOL debutante begin met hul fondsinsamelings pogings. Hulle moes projekte reël en borge kry, en alle fondse geïn word dan aan liefdadigheidsorganisasies geskenk. Meer as R4 miljoen is aan welsynsorganisasies die afgelope twee jaar geskenk.
In die finale rondte bly slegs 16 finaliste oor. Hierdie 16 finaliste het Saterdag, 24 Januarie aan die kroningsfunksie te Pretoria deelgeneem waar Suné Barnard as Tuks Joolkoningin 2009 aangewys is. Sy moet deur die jaar aan verdere projekte deelneem en fondse insamel vir liefdadigheid. ‘n Groot deel van die fondse wat sy reeds ingesamel het, is plaaslik aan Tambotie Versorgingsoord vir bejaardes, Helpende Hande en Abraham Kriel kinderhuis geskenk.
Die TUKS JOOL Vodacom Pick ‘n Pay Optog sal die strate van Hatfield, Pretoria, op Saterdag 31 Januarie 2009 ophelder. Die tema vir vanjaar se optog is “The Bucket List” en behels die dinge wat jy graag wil doen of bereik voordat jy doodgaan. Die Optog bestaan uit 7000 studente wat 16 vlotte sal vergesel, tesame met ‘n verskeidenheid groepe wat gaan optree. Die beginpunt is Roperstraat in Hatfield en die optog sal eindig in Hatfield Vierkant, Burnettstraat, Hatfield.