Hernuwing van vuurwapenlisensies

THABAZIMBI – Die laaste groep vuurwapeneienaars, diegene wat tussen 1 Oktober en 31 Desember verjaar, moet voor 31 Maart vanjaar aansoek doen vir nuwe vuurwapenlisensies.
Die Suid-Afrikaanse Polisie doen ‘n beroep op alle houers van vuurwapenlisensies wat uitgereik is onder die ou herroepte Vuurwapen en Ammunisie Wet van 1969, om hulle vuurwapenlisensies te hernu voor einde Maart.
Enige persoon wat vuurwapenlisensies wil hernu ná die vervaldatum van sy eie hernuwingstydperk kan vervolg word en tot een jaar gevangenisstraf of ‘n boete óf beide gevonnis word. So ‘n persoon mag ook deur die hof verbied word om ‘n vuurwapen te besit.
Vanaf 1 Julie 2009 sal enige vuurwapenlisensies wat onder die herroepte wet uitgevaardig is, ongeldig wees.
Vuurwapeneienaars wat verkies om nie hul lisensies te hernu nie, moet voor 1 Julie 2009 van die vuurwapen ontslae raak deur dit te laat deaktiveer by ‘n gelisensieerde wapensmid nadat toestemming van die Registrateur verkry is, deur dit te verkoop aan ‘n wettige vuurwapenhandelaar of geakkrediteerde instansie, deur dit permanent na die buiteland uit te voer of  deur dit aan die polisie te oorhandig om vernietig te word.
Vir verdere navrae kan inspekteur Ramela by 014 777 3511, me Struwig by 014 777 3524 of me Mahlangu by 014 777 3522 geskakel word.
Die polisie beveel aan dat vuurwapeneienaars nou reeds die hernuwingsproses begin om te voorkom dat almal naby aan die afsnydatum van 31 Maart in lang toue wag.