Vliegtuig doen noodlanding

THABAZIMBI – Nie een van die insittendes van ‘n twee-motorige Beechcraft Baron 58-vliegtuig is beseer nadat die vliegtuig Saterdag 17 Januarie 67km noord van Thabazimbi ‘n noodlanding moes uitvoer nie alhoewel die vliegtuig ‘n totale wrak is.
Geen inligting oor die passasiers is deur die Burgerlike Lugvaart Owerheid (BLO), wat baie vinnig op die toneel was, beskikbaar gestel nie.
Die vliegtuig, wat in Botswana geregistreer is en aan African Business Solutions behoort, het blykbaar opgestyg van ‘n privaat aanloopbaan op ‘n plaas noord van Thabazimbi toe dit, kort na opstyging, enjinprobleme ondervind het.
Volgens die BLO is ondersoeke oor wat die probleme veroorsaak het aan die gang, en kan geen kommentaar gelewer word oor die rede vir die ongeluk of waarom niemand beseer is nie.
Ooggetuies het die vliegtuig ‘n noodlanding sien doen ongeveer 7 km noord van die militêre pad na Rooibokkraal.
Onbevestigde berigte lui dat die vliegtuig ‘n vol vrag gedra het en dat daar probleme met die regtermotor ondervind is. Daar was ook geen groot bome waar die noodlanding uitgevoer is nie. Gelukkig was daar geen groot bome in die omgewing nie en het die vlieënier ‘n suksevolle buiklanding uitgevoer.