Tweede rondte van Rapportryers Bybelvasvra afgehandel

THABAZIMBI – Die tweede rondte van die Rapportryers se Bybelvasvra het op Saterdag 25 Augustus plaasgevind. In die Limpopo Provinsie het daar 35 spanne deelgeneem. Die gemiddelde persentasie van beide rondtes van die eerste 4 spanne was as volg. Nylstroom 1 – 89.25%, Ellisras 1 – 88,25%, Thabazimbi 1 – 88% en Thabazimbi 2 – 84,25%. Die eerste 3 spanne in Limpopo het die onderskeiding behaal om as drie van die 10 beste spanne landwyd aan die finale rondte op 20 Oktober te Rustenburg deel te neem. Vir die finale rondte word die hele boek Eksodus (40 hoofstukke) en Mattheus (28 hoofstukke) dus 68 hoofstukke in totaal, voorberei. Die kompetisie bestaan uit 5 afdelings nl meerkeuse vrae, invul vrae, blokkiesraaisels, pasmaats en teksverse waaruit woorde weggelaat is, wat voltooi moet word. Al die antwoorde word voltooi sonder dat ‘n bybel geraadpleeg mag word. Die deelnemers moet dus as’t ware hierdie 68 hoofstukke uit hulle kop ken. Die kompetisie het groot opvoedkundige waarde en kweek spangees, samewerking, vertroue, uithouvermoë, dissipline en leer die spanlede om doelgerig, gereeld en hard te werk.