Groot pret met NG Gemeentefees

THABAZIMBI – Die NG Gemeentefees wat jaarliks saam met die begin van lente val, is oudergewoonte op Saterdag 1 September op die NG Kerkterrein gehou. Feesgangers kon kies uit ‘n verskeidenheid eetgoed, aktiwiteite en vermaak, onder ander die “Happy Feet” pretstap vir oud en jonk om die Kerk se blok, met ‘n prys vir die persoon wat soos die fliek se “Happy Feet” pikkewyn aantrek. Daarby saam het Luzaan Combrink ‘n marathon van 80km gereël. Deelnemers het reeds om 05:00 Saterdagoggend vanuit Dwaalboom weggespring en eers vanaf 11:00 in Thabazimbi aangekom. Die deelnemers kon kies of hulle dit met fietse aanpak of met die fiets en te voet afwissel. Ander aktiwiteite het die veiling van lewende hawe en die troeteldierskou ingesluit. Vir die meeste mense was dit die vleistafel met die heerlike wors wat ‘n definitiewe kopie verseker het, maar wie loop nou ooit verby die basaarpoeding. Die NG Gemeente wil graag almal bedank wat die dag ondersteun het sowel as vir die sport mangees van die “Happy Feet” deelnemers.