Toergroep van Creare in Thabazimbi

THABAZIMBI – Mense wat Vrydag 17 Augustus 2007 by Pick ‘n Pay was, sou die groep jong mense gesien het, wat in swart geklee was met hulle wit geverfde gesigte en handskoene. Dit word “white face mime” genoem. Sommige van die verbygangers het verby geloop met ‘n frons terwyl ander ‘n vraagteken gehad het wat oor hulle gehang het. Sommiges was pleinweg ongeskik. Ander weer het ‘n vriendelike glimlag getoon en selfs ‘n donasie oorhandig. Hierdie is ‘n groep studente van die Creare groep in Bloemfontein bestaande uit lede van vyf verskillende gebiede, Jolene wat die toerleidster is, is van Bloemfontein, Nicolene van Potgietersrus, Yvonne van Barberton, Gideona van Madagskar en Clement van Tzaneen. Creare is ‘n latynse woord wat beteken “to create, to bring forth, to produce and to give life”. Creare is ‘n Christelike kuns kollege wat oop is vir alle ouderdomme. Daar kan jy opgelei word in enige kunstige rigting waarmee God jou lei, onder andere dans, drama, musiek, multi media en dies meer. Die span wat hier was toer basies deur Mpumalanga vir 8 weke in 8 verskillende dorpe. Hulle vertoef een week in elke dorp en sluit aan by ‘n kerk wat hulle ontvang, in Thabazimbi was dit die AGS kerk. Hulle doel is om in die gemeenskap ‘n diens te doen, elkeen moet vier ure weekliks gebruik om bediening te doen. Hulle het onder andere klasse deur die week aangebied wat gewissel het van 30 minute tot ‘n uur in hul betrokke studierigting teen ‘n nominale fooi. Deel van hul diens was om Evangelisasie te doen waar hulle vir vyf profetiese woorde gebid het met betrekking tot mense in die dorp en dit dan uitgedeel het soos hulle gelei gevoel het deur die Heilige Gees. ‘n “Holiday school” word gedurende Desember aangebied teen ‘n nominale fooi wat behels dat die kollege vir ‘n tydperk van twee weke oop is vir die publiek. Verblyf word dan ook aan enige belangstellende gebied en hulle hoef nie vir ‘n jaar te registreer nie. Fondse wat gedurende hierdie tydperk ingesamel word, word aangewend vir enige kostes wat gedurende die toer gedek moet word en die res gaan vir Creare. Die doelwit van Creare is om studente toe te rus met die nodige kennis en vermoëns om effektief te kan evangeliseer sodat dit ‘n impak maak. Hierdie groep se volgende stop is in Polokwane, maar indien u enige verdere inligting verlang rakende Creare skakel gerus 051 5226935 of 072 414 7467.