Egpaar oorval in slaapkamer

THABAZIMBI – ‘n Bekende egpaar in die dorp het Saterdag 18 Augustus met ‘n skok wakker geword toe hulle deur drie mans in die vroeë oggendure, omstreeks 02:30 die oggend, in hul hoofslaapkamer verras is. Die egpaar het niksvermoedend in die hoofslaapkamer van hul huis gelê en slaap toe die hooflig skielik aangeskakel word en hulle uit hul slaap gewek is deur ‘n geskree. Drie aggressiewe mans het in die kamer gestaan. Hulle het die egpaar beveel om te bly lê en wou by hulle weet of daar enige vuurwapens in die huis was. Nadat die egpaar negatief geantwoord het, het die booswigte in elk geval begin om die huis te deursoek, onder kussings en beddens. Die egpaar se hande sowel as die vrou se voete is toe met doringdraad vasgebind. Twee van die booswigte wou hê dat die man hulle na die onderste verdieping moet vergesel terwyl die ander een bo by sy vrou sou bly. Hierop het hy volstrek geweier. Hulle het aggressief geraak en gedreig om hom te skiet as hy nie saamwerk nie en al drie die mans het hom na die onderste verdieping vergesel. Op die onderste verdieping gekom het hy gemerk dat sy TV en ander huishoudelike items reeds verwyder was. Hulle het hom daarna om geld en die sleutels van sy splinternuwe Toyota Landcruiser gevra. Met die oorhandiging van die sleutels wou hulle weet of daar ‘n anti-hijack toestel of enige ander soortgelyke toestel in die motor geïnstalleer is. Toe hy onkennend antwoord het die booswigte hom weereens met die dood gedreig indien hy nie die waarheid vertel nie. Hy is weer na die boonste verdieping gelei waar sy voete ook vasgebind is. Die aggressiefste van die booswigte het toe agtergebly terwyl die ander twee met hul buit op die vlug geslaan het. Die man wat agtergebly het, het deurentyd op en af geloop en was besig op sy selfoon. Na ‘n verloop van ongeveer 15 minute het alles stil geraak, en het die man daarin geslaag om sy voete los te maak. Hy het hom na sy buurman gehaas waar hy toe die SAPD ontbied het. Die boosdoeners het ingang tot die huis verkry deur die agterdeur oop te forseer. Hulle was uiters arrogant aangesien daar ongeveer ‘n uur of twee vroeër ‘n poging van inbraak ongeveer 150m verder in die straat af plaasgevind het. Hierdie persoon se huisalarm het afgegaan en daar was redelik baie SAPD aktiwiteit. Steeds het hulle toe voortgegaan met die inbraak en het hulle nie eers maskers gedra nie en was deurentyd in verbinding met ander onbekendes op hulle selfone. Gelukkig het die gesin fisies ongeskonde van die hele episode afgekom, buiten vir die plekke waar die doringdraad hulle gesny het. Ongeveer R400 000 se goedere word vermis.