Kampvuurfees vat vlam

Elana Greyling

VAALWATER -Vaalwater het die lang naweek behoorlik vlam gevat deur ‘n Kampvuurfees met ‘n verskil aan te bied. Die klem het op toerisme geval, een van die hoofbedrywe in die rustige deel van die Bosveld. Avontuurtoerisme, het saam met wild en ekotoerisme aandag getrek.

Feesgangers kon aan ‘n ‘verfbalgeveg’ deelneem, vierwiel motorfietse, perdry, donkiekarry en selfs op die ou Grotes se rug klim. ‘n Spesiale program is vir vrouedag aangebied. Geestelike kore het heel naweek opgetree met ‘n lekker kuier om die kampvuur. Annamarie Schoeman het ‘n poppekas met Adonis Aap en die ou veldwagter aangebied, wat die kinders laat gil het van plesier. Sy beskou dit beslis as ‘n roeping en wil graag verder in die omgewing goeie werk met haar karaktertjies verrig. Die mooiste blommetjies, of is dit nou vlammetjies, van die Bosveld is ook gekroon: Mej Vuurvliegie was Mijeanne Grové (6 jr oud), mnr Vlammetjie was Cronjé Nelson (amper twee jaar oud), Mej Vlammetjie was Tanisja Venter, Jong mnr Vonk was Dirk Prinsloo en Mej Tiener Kampvuur was Francis Botha. Die kompetisie is hanteer en pryse is geborg deur Jacomien Smith wat haar eie modelskool op Vaalwater het. Die lig van die Bosveld, Mej Kampvuur 2007 is Eileen Pretorius en mnr Blits is Gerhard Faber. Die Waterberg Rehabilitasiesentrum onder die bekwame leiding van Tokkie van Wyk het gratis koffie aan alle feesgangers voorsien. Hulle goeie werk in die gemeenskap is vir almal ‘n inspirasie. Hulle konsentreer op drank- en dwelmmisbruik en neem mense van regoor die land in vir ‘n minimum periode van agt maande. In hierdie tydperk rus hulle elkeen toe met ‘n vaardigheid, asook die kwalifikasie om geestelik leiding aan ander te gee. Volgens me Susanna Eckard, organiseerder was die Fees ‘n seën vir almal wat daaraan deelgeneem het en sy is reeds besig om te werk aan die Kampvuurfees vir 2008.