Survivor Whata Thaba

THABAZIMBI – Die jaarlikse skoonheidskompetisie wat gedurende die Landbou skou aangebied is deur Thaba Spar en Studio III was vanjaar ‘n reuse sukses. Die deelnemers het al hul kreatiwiteit aan die dag gelê met hul uitrustings en die loopplank was gepak met plante en fakkels om die regte atmosfeer te skep. Die skou komitee en al die helpers het hul behoorlik van hul taak gekwyt om alles in plek te kry. Die wind het egter bietjie gepla, aangesien die fakkels bly doodwaai het, maar dit het geensins die deelnemers se geesdrif gedemp nie. Die kompetisie het ‘n aanvang geneem nadat die talentvolle Willem Botha en die pragtige borrelende Natasja Lee eers die gehoor met ‘n paar liedjies vermaak het. Elke deelnemer moes eers voor die beoordelaars tafel besoek aflê vir ‘n onderhou aangesien die meeste van die punte daarop gebaseer is, en daarna het elkeen hul slag op die loopplank gewys. Die deelnemers en die gehoor het dit terdee geniet en elkeen is hartlik toegejuig. Die hoogtepunt van die kompetisie was toe die manne wat ingeskryf het vir die beste survivor hul verskyning op die loopplank gemaak het. Mens kon duidelik hoor wie die gehoor se gunsteling was, en die manne het baie inisiatief aan die dag gelê. Een van hulle het selfs die gehoor vermaak deur ‘n paar opstote op die loopplank uit te voer. Die beoordeelaars het behoorlik ‘n kopkrap stryd gehad en uiteindelik het die groot oomblik aangebreek waar die wenners van hierdie baie genotvolle kompetisie aangewys is. Voorwaar ‘n geleentheid om na uit te sien by volgende jaar se Landbou skou.