Jagters gevang met valse jagpakkette

THABAZIMBI – Luiperdkloof is klaarblyklik ‘n jagplaas in die omgewing wat al die wild en fasiliteite het wat enige wildjagter van kan droom. Ongelukkig het ‘n baie slinkse man ‘n plan beraam om onskuldige mense met die idee te verkul. Drie mans met ‘n voorliefde vir jag van verskillende dele van Suid-Afrika is volgens hulle op ‘n baie slinkse manier deur ‘n ene meneer Du Preez van ‘n paar duisend rand beroof. Een van die onskuldige mense is Johan Booyse, van Randfontein. Hy laat gewoonlik die karkasse van die wild wat hy skiet by ‘n betrokke slaghuis in Randfontein verwerk. Die boef het op een of ander obskure wyse sy selfoonnommer in die hande gekry, volgens hom by die slaghuis, en jagpakkette aan hom bemark. Die man het sy huiswerk behoorlik gedoen en alles haarfyn beplan. Die prys het akkommodasie, etes, slaggeriewe en alles ingesluit. Al die reëlings is vir ‘n betrokke naweek gemaak, maar ‘n deposito moes betaal word om een van die beperkte en gesogte plekke te bespreek. Die deposito moes in sy poskantoorrekening gemaak word, wat wel bestaan. Die jagpakket sou meneer Booyse in totaal R22000 uitwerk en hy het ‘n deposito van R8000 in hierdie rekening inbetaal. ‘n Paar dae voor die jag is hy per sms ingelig dat die man se vrou se suster skielik oorlede is en dat hy vir ‘n paar dae nie beskikbaar gaan wees nie. So het meneer Booyse dan ook nooit weer van hom gehoor nie en is die geld ook daarmee heen. Meneer Dolf Uys van Hendrina, en sy seun, Johan van Pietersburg, is op soortgelyke wyse benader en het dit as ‘n ideale wegbreek naweek vir pa en seun beskou. Meneer Uys het die deposito van R3000 by die poskantoor gaan inbetaal en bevestiging per faks ontvang van sy pakket en ook rigtingaanwysers na die jagplaas. Alles was reeds gepak en reg vir die groot jag toe daar ook ‘n sms deurkom wat verskoning maak dat die jag gekanselleer word weens die dood van sy vrou se suster. Sedertdien het hierdie man spoorloos verdwyn en wonder mens hoeveel onskuldige mense op hierdie wyse verkul is. Hierdie mans het besluit om saam te staan en meneer Dolf Uys het ‘n saak by die SAPD in Middelburg by konstabel JB Mahlangu gaan aangee. Meneer Uys is selfs bereid om ‘n beloning aan te bied vir enige inligting wat sal help om die booswig aan die pen te laat ry. Kontak gerus vir Konstabel Mahlangu by 013 2491111 saaknr.MAS 547/6/2007