Buit weer vir regmatige eienaar aangebied

THABAZIMBI – ‘n Vermeende dief het so arrogant geraak dat hy sommer sy buit aan die regmatige eienaar wou verkwansel. Volgens Me Rina Huyser, ‘n plaaslike inwoner, was sy sprakeloos toe ‘n onbekende man op Woensdag 11 Julie haar winkel binnestap en haar eie motorradio aan haar wou verkoop. “Ons was die langnaweek in Junie maand weg en gedurende ons afwesigheid is daar by een van ons voertuie ingebreek,” sê Me Huyser Volgens haar is die saak is op 18 Junie by die SAPD in Thabazimbi aangemeld, maar dit wou voorkom of die saak geen aandag geniet het nie. Toe die man dus op 11 Julie haar winkel binnestap het sy gehoop dat daar eindelik ‘n deurbraak in die saak gaan kom. Me Huyser het onmiddellik die SAPD geskakel en hulle ingelig oor die moontlike verdagte. Die man het egter snuf in die neus gekry, in ‘n rooi Volkswagen Golf gespring en weggejaag. Gelukkig kon Huyser die registrasienommer afskryf wat sy ook met die polise se aankoms aan hulle gegee het. Een van die speurders het glo toe gemeld dat hy die persoon aan wie die voertuig behoort ken. Huyser was dus baie optimusties dat die polisie binne ‘n japtrap die verdagte gaan opsoor aangesien hy reeds aan hulle bekend is. Op Maandag 23 Julie moes sy egter verneem dat die eerste saak gesluit is en dat sy veronderstel was om ‘n tweede saak van die besit van gesteelde eiendom te open. Sy was woedend en wou weet hoekom die polisiemanne op die toneel haar nie ingelig het dat ‘n nuwe ‘n saak geopen moes word nie en wat die sin daaraan sou wees as die eerste saak nie eens ondersoek is nie. Huyser is deur ‘n klerk aangeraai om haar ongelukkigheid met stasiekommissaris Supt Isaac Manjane op te vat. “Ek is baie ontevrede met die manier waarop die SAPD sake ondersoek. Hier was ‘n verdagte wat moontlik betrokke was by ander misdade in die omgewing, maar dit lyk nie asof die polisie ‘n waardevolle leidraad wil opvolg nie,” het ‘n ontstoke Me Huyser aan die Kwêvoël gesê. Sy het aangedui dat sy die saak nie daar gaan laat nie en beslis ‘n formele klagte by die SAPD gaan inhandig.