Gemeente groet predikantspaar na 17 jaar

Luitjé Mulder

Die Nederduitsch Hervormde Kerk, Gemeente Vliegepoort was op Sondag 22 Julie 2007 nog selde so volgepak. Almal was daar om van die Loots-gesin afskeid te neem. Hulle het diep in die harte van baie mense ingekruip tydens hulle 17 jaar lange verblyf in Thabazimbi. Vanaf ‘n baie vroeë ouderdom preek hierdie klein mannetjie met die groot stem uit Psalm 8 vir almal wat wil luister, sonder dat hy weet dat dit in die Bybel staan. Toe hy dit self kon lees, het hy besluit dat hy dit net met baie spesiale geleenthede as teks sal gebruik. Dit was Sondag die vierde keer dat hy die tema “Wat is die mens?” gebruik het. Sy preek was soos gewoonlik, kragtig en met ‘n boodskap vir elkeen. Die verrigtinge na die preek het met ‘n sangitem begin wat deur Wikus en Danie van Deventer gelewer is. Groete boodskappe van oral oor het gevolg. Verskeie sprekers het die gemeente met kwinkslae vermaak en probeer uitvind waar die bynaam “Kalfie” nou eintlik vandaan kom. Tussendeur het Ingemari se aansteeklike lag die emosies ietwat ontlont. Bo-op die gallery sit Franco besig om die verrigtinge op video te verewig. Me Loots het op ‘n strategiese wyse die tegnologie ingespan wat haar behulpsaam was met haar aanbieding. Dit het menigeen van ons laat besef dat sy baie hartseer kan raak indien dit in die vroeër jare was kon sy as rouklaer ingehuur word. Ds Loots het op ‘n kenmerkende wyse op al die kommentaar gereageer en ook die jare lange geheim van sy bynaam bekend gemaak. Ons kan ook maar soos hy altyd gesê het, die uitlating maak: Mens praat nie daaroor nie. Dit was aangrypend en aandoenlik toe Franco en Ingemari die lied van Koos du Plessis, Gebed, gesing het. Hier het byna almal na hul sakdoeke gegryp. Toe die massa die kerkgebou verlaat, het iemand gewonder of daar genoeg kos vir die menigte van ongeveer 600 mense gaan wees. Hulle het vinnig tot die besef gekom dat Mev Loots die grondslag gelê het dat daar nooit te min kos mag wees nie. Afskeid is nooit aangenaam nie, maar Danie Kloppers het tereg die opmerking gemaak: “Ons neem nie vandag afskeid nie. Ons gee net aan die Lootse ‘n nuwe staffie vir die pad wat voorlê. Soos ons hulle ken, gaan hulle beslis nie stil sit nie.” Die Loots-gesin het lief geword vir Thabazimbi en besluit om hulle hier te vestig. Hoewel hulle ‘n emeritaatsgesin is, is hulle steeds in diens van die Here. Die psalmdigter sê tereg: “O Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!”