Amor Vittone Voluit in Thaba

THABAZIMBI – Daar lê ‘n opwindende aandjie voor in Augustus wanneer Amor Vittone saam met ons in die bos kom kuier. Amor se jongste album, Voluit, is onlangs deur Select Music vrygestel en is ook vir ‘n SAMAtoekenning in die afdeling Beste Afrikaanse Popalbum benoem. Sy is ook benoem vir ‘n People/MENSE Crystal Award in die afdeling Hottest SA Performer, die enigste vrou in dié afdeling, wat Danny K, Heinz Winkler, Kurt Darren en Mandoza insluit. Aanhangers kan haar ook vanjaar by die 2007 Huisgenoot Skouspel by Sun City te wagte wees. Ysterberg Kelders bied vanjaar hierdié besonderse aand op 24 Augustus, ten gunste van die HFM Graad 11’s se fondsinsameling aan. Die kaartjies beloop R100 per persoon en R80 vir skoolgaande leerlinge. Daar sal sjerrie by die deure beskikbaar wees asook worsbroodjies wat te koop aangebied word ter aanvulling tot die fonds. Haas jou na Ysterberg Kelders, Boere Slaghuis of La Casa Bella Donna om ‘n kaartjie in die hande te kry. Slegs beperkte aantal kaartjies is beskikbaar.