OTM vernietig in Setaria – Gewapende rowers slaan toe

SETARIA – Drie gewapende booswigte het Sondagoggend 1 Julie op die OTM masjien op die perseel van Setaria Spar toegeslaan in ‘n poging om dit te beroof. Die drie het klaarblyklik toegang tot Setaria verkry deur ‘n draad te knip, deur te klim en te voet op hul teiken toe te slaan. Hulle het die petrol joggie, Lazarus, by die nabygeleë petrolpomp vasgebind in die kamer en hom van die petrolgeld beroof. Die sekuri- teitswag wat op diens was het gaan skuiling soek aangesien hy ongewapen was. Volgens hom kon hy nie om hulp roep nie aangesien sy twee-rigting radio se battery afgeloop het. Die rowers het toe die Standard Bank OTM, wat op die perseel van die Spar is, geplunder. Hulle het van plofstof gebruik gemaak om die OTM masjien te probeer opblaas, maar sonder sukses. Daarna het hulle die veiligheidsdeur probeer oopbreek, maar kon dit ook nie regkry nie. Die slag van die ontploffing het die aandag van ‘n lid van die publiek getrek, maar toe hy wou ondersoek instel was daar op hom geskiet. Hy het gelukkig ongedeerd daarvan afgekom, en het gaan skuiling soek. Nadat die rowers op die vlug geslaan het, het die sekuriteitswag uitgekom, die petroljoggie bevry en toe die nodige persone geskakel vir hulp. Daar is gou opgetree, maar geen arrestasies is gemaak nie. Patroondoppies is op die toneel gekry en die gebied is afgebaken deur die Polisie. Geen verdere inligting is beskikbaar nie.