Misdaadstatistiek bevestig publiek is onveilig

“Die nuutste misdaadstatistiek wat toon dat veral moord, motorkapings, roof in die algemeen en roof by woonhuise toegeneem het, bevestig die publiek se siening dat misdaad toeneem en buite beheer raak. Hierdie tipe misdade bedreig die publiek se lewens en is hulle in hulle eie huise onveilig. Hierdie statistiek maak Suid-Afrika ‘n onveilige land om in te bly”, sê mnr Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Veiligheid en Sekuriteit van die Vryheidsfront Plus. “Veral die toename in roof by woonhuise wat met 25,4%, moord wat met 3,6%, roof met verswarende omstandighede wat met 5,7% en motorkapings wat met 6% gestyg het, is ontstellend. Hierdie misdade is almal geweldsmisdade wat Suid-Afrika ‘n geweldadige land maak. “Vanaf April 2001 tot April 2007 is daar nou reeds 119 322 mense in Suid-Afrika vermoor en meer as 3 miljoen slagoffers net van aanranding ( 3 070 672). Die wêreldgemiddeld vir moord is 5 per 100 000 van die bevolking, maar in Suid-Afrika is dit 40,5 per 100 000, met ander woorde agt keer meer as in die wêreld. Ten spyte hiervan sê mnr Charles Nqakula, minister van Veiligheid en Sekuriteit, dat misdaad onder beheer is en rooskleurig lyk. Solank die minister in hierdie toestand van ontkenning is, sal misdaad nie behoorlik bekamp kan word nie”, het Groenewald gesê.