SA vroue maak indruk by kongres in Finland

Die Wêreldbond van Plattelandse Vroue (WBPV) is tans besig met hul kongres in Turku, Finland. SA se eie Amphia Grobler is pas verkies as tessouriere van die reuse organisasie. Mev Ursula Goh van Oos Maleisië, wat ‘n paar jaar gelede in die Bosveld kom kuier het, is weer herkies as presidente. Die WBPV het ‘n reuse ledetal van plattelandse vroue van regoor die wêreld en het selfs sitting op die Verenigde Nasies (VN). Dis daarom ‘n groot eer vir Suid-Afrika en ‘n eerste, dat Amphia tot die topbestuur verkies is. ‘n Afvaardiging van ongeveer twintig lede van die Suid- Afrikaanse Vroue Landbou Unie woon die vier jaarlikse wêreldkongres by. Amphia is presidente van die Suid- Afrikaanse Vroue Landbou Unie. Sy is van Middelburg en die hele VLU is baie trots op haar. Sy is ‘n entrepeneur van geaardheid en baie interessante projekte is reeds onder haar leiding in SAVLU aangepak, wat gemik is om ‘n wesenlike verskil in gemeenskappe te maak. Volgens Mev Retha Prinsloo, presidente van VLU Noord, ook by die Kongres, is hierdie posisie van mev Grobler die begin van nog groter dinge. ‘n Paar jaar gelede is nog ‘n Suid-Afrikaner, Mev Anna Boshoff verkies tot voorsitter van die Suider Afrika- streek, ook ‘n groot eer. Meer as 40 vroue uit Suidelike Afrika woon die Kongres by. Die tema vir die jaar is “Baan die weg vir vroue”. Belangrike kwessies soos vroueregte, veiligheid van vroue en kinders, voeding en waterskemas, opvoeding en bemagtiging, en nog vele meer is bespreek. Mev Tharina Rossel uit Lephalale is ook een van die verteenwoordigers. Sy geniet dit in Turku, een van Finland se oudste en ook grootste stede, maar ongelooflik beplan want oral is die groen oop ruimtes vol bome. Sy was ook verteenwoordiger by die vorige Kongres wat in Hobart, Tasmanië gehou is. Van die Suid- Afrikaanse dames sal vir ‘n paar dae na die Kongres aanbly om die res van Skandinawië te gaan ondersoek.

Inspirerende vroue aan die werk