Categorized | General

Style om jou huis te dekoreer – Vroueblad

Victoriaanse styl: Hierdie styl is vir die baie romantiese vrou. Alhoewel daar nog huise is wat in hierdie era gebou is, is hull reeds verwaarloos. Om die tekstiele, meubels en muurpapier te bekom is egter nog ewe maklik.
Muurafwerking – Die muur moet jy in drie deel deur ‘n dadolys op die hoogte van ‘n stoel se rugleuning en ‘n prentelys onder die plafon langs, wat die fries van die muurgedeelte skei. Die gedeelte onder die dadolys word geverf, geplak of met hout afgewerk. Die gedeelte tussen die dadolys en plafonlys word geplak of gekleur om by die kleurskema te pas. Die muurgedeelte word dan met patroonvelle geplak.

Vloerafwerking – Die vloere word heeltemal met matte bedek. Helder en patroonvolle matte was baie gewild. Die kombuis en gange is van klei- of klipteëls wat met los matjies afgerond word.

Gordyne – Rolblinders moet teen die venster hang. Fyn kantbinnegordyne verberg dit en verleen elegansie aan die vensters. Swaar fluweelgordyne met motiewe word met gordyn ringe oor ‘n staaf gehang.

Meubels – Okkerneut-, kersie- en rooshout was baie gewild aangesien dit donker is. Victoriaanse meubels is ook masief en met fyn kerfwerk afgerond.

Slaapkamers – word sagter en ligter kleure gebruik. Beddens soos die hemelbed word met sagte, geborduurde weefstof gedrappeer. Victoriaanse vroue se grootste tydverdryf was hand en borduurwerk wat daartoe gelei het dat bedlinne met handwerk versier was.
Ornamente vir die huis was oordadig en het getuig van belangstelling in die buite wêreld. Nagemaakte- en opgestopte voëls, dosies van verskillende groottes en vorms, horlosies en Japannese cloisonné, Indiese tjalies en ivoorornamente was van die algemeenste wat gebruik is.
Mediterreense styl (Moorse manier): Met hierdie styl word baie uiteenlopende smake bevredig. Van die strak en somber maar broeiende Spaanse atmosfeer tot die ongebondenheid en uitgelatenheid van die Mexikaanse en Indiese kleursin. Kenmerkend van hierdie styl is grof gepleisterde mure, smee-ysterwerk groefteëlvloere.
Muurafwerking – Die mure is gepleister en wissel van wit, Terra-cotta of blou van kleur. Teëls en leer is ook gewild om teen die mure gebruik te word.

Vloerafwerking – Die meeste aktiwiteite vind op die vloer plaas en kleiteëls, bakstene of klip word hier gebruik. Los matte van wol of gras en los kussings op die vloere kom ook algemeen voor. Persiese matte met diep aardse kleure is die gewildste maar byna onbetaalbaar hoog in prys.

Meubels – Koper skinkborde op houtstaanders kan baie verrig vir die Mediterreense styl. In die leefarea kan jy ingeboude banke bou met los kussings, verkieslik gestreep. Safaristyl stoele kan hierby gebruik word.

Slaapkamers – Hier is ‘n duvanbed voldoende en kan afgerond word met ‘n moeselienmuskietnet. Wit katoen vir gordyne en beddegoed geniet voorkeur.

Ornamente – alles is met patrone en fyn detail versier (muurbehangsels se rame, spieëls ensovoorts)

Cottage styl: As jy nie die avontuurlustige persoon is nie, maar meer gemoedelik, is die Cottage styl vir jou. Byna alle tipe persoonlikhede vind byval by hierdie styl en kan by enige huis toegepas word. Die goue reël is om die indruk te skep dat ‘n beplande voorkoms vermy is. Dit moet die idee verleen van ‘n huis wat oor ‘n tydperk vorm aangeneem het. Jou meubels, kleurgebruik en ornamente wat jy gebruik moet korrek wees.
Muurafwerking – Gebruik verkieslik wit of ‘n sagte tint van ander kleure. Groen moet dus ‘n sagte lemmetjie groen wees. Die pret begin by die kies van jou muurpapier. Daar is ‘n groot verskeidenheid meng-en-pas ontwerpe beskikbaar. Sorg net dat die ontwerp by die funksie van die vertrek pas.
Vloerafwerking – Aangesien daar heelwat is om van te kies, moet in gedagte gehou word dat die keuse van so aard moet wees dat dit in die geheel verdwyn. Sagte of verbleikte matte is gepas. Seegrasmatte is ook geskik as los matjies in die huis. Houtvloere bly egter die eerste keuse. Kleiteëls moet lig van kleur, reghoekig of vierkantig wees.

Meubels – Vir die Cottage-styl is rottang en hout (dennehout is die gewildste) meubels die enigste keuse. Verteenwoordigend van die hedendaagse gejaagde lewe is plastiek, glas en chroom oorheersend en dus taboe. Sorg dat jou bybehore soos tafeltjies ook van hout of rottang is.

Slaapkamers – Hout-, yster- of koper beddens is die meeste geskik. Gebruik onpaar tafels, kiste of laaikassies langs die bed. Hier het jy ‘n buitensporige vryheid van keuse.

Ornamente en bykomstighede – Jy kan potte en blomme in oormaat gebruik Kombineer ook met potplante sodat jy die natuur van buite na binne bring. Skilderye moet landelike of plaasdiere wees in donker, onversierde rame. Erde-groenteskottels kan ook baie vir jou versiering doen.

Kaaps-Hollandse styl: Suid-Afrika se eie Kaaps-Hollandse meubels (daar is nie meer baie nie) kan byna enigiemand se smaak bevredig. Dit is eenvoudige meubels wat die romantiese en ook geordende vrou verkies. Kaapse meubels word die beste vertoon teen ‘n eenvoudige agtergrond.
Muurafwerking – Jy hoef nie noodwendig jou mure wit te verf nie. ‘n Liggroen en mostertgeel is ook gewild. Skilderye uit daardie era sal ook aan jou nuttige leidrade verskaf.

Vloerafwerking – Blink houtvloere of leiklip vloere is deel van die Kaaps-Hollandse era.

Meubels – Aangesien die donker stinkhoutmeubels skaars en onbekombaar is, is die plattelandse style vandag gewild en redelik bekombaar. Gewilde versamelstukke sluit riempiesbanke en stoele, geelhouttafels, jonkmanskaste en kiste in.

Slaapkamers – Outentieke hemelbeddens is baie gewild. Wit linne wat afgerond is met borduurwerk en kant is die algemeenste gebruik in die kamers. Die belangrikste is die komberse wat uit reslappies gemaak is. ‘n Laaikassie met wasbeker en kom rond die prentjie af.

Ornamente – Porselein steek sy kop bo uit. Fluweel en kant was ook baie gewild as dit by versiering gekom het. Keramiekkruike, silwer en koper houers kan oral uitgestal word. Mandjies is as houers in die huis gebruik. Hekelkant is gebruik as lappies op alle kassies.

Die moderne beweging: Boumetodes het op rewolusionêre wyse verander. Staal en beton het hout en bakstene begin vervang. Groot, goed beligte geboue en huise is deesdae die moderne mens se voorkeur. Nie net die meubels nie, maar kuns en tekstiele het ‘n gedaantewerwisseling ondergaan. Die kuns is abstrak en selfs die vorm, lyn en kleur word in ag geneem. Huislinne word vervang met drupdroogtekstiele. Silwer word vervang met vlekvrye staal. Selfs eetgerei en borde is in nuwe, moderne lyne. Min meubels, skilderye en ornamente word gebruik en is daarom baie belangrik om dit rég te gebruik.Neutrale kleurskemas het sinoniem geword met die luukse. Meubels herinner jou eerder aan fabrieke as aan huise, maar of hierdie moderne beweging van verbygaande aard is, sal nog gesien moet word.

Bron: Leef jou huis mooi.

2 Responses to “Style om jou huis te dekoreer – Vroueblad”

  1. Andre van Dyk says:

    Goeie dag
    ek het pas ‘n ou victoriaanse huise in Prins Albert gekoop en moet dit nou restoureer en meubeleer. Is daar enige plek en/of iemand wat ek kan nader rakende advies oor die eietydse meubels, gordyne, kombuis of badkamers van daadie tyd?

  2. german says:

    ek is opsoek na n queen size hemel bed

Trackbacks/Pingbacks


Leave a Reply

Download Die Kwêvoël in PDF

List your business free

Thabazimbi Business Directory

Follow us on Facebook

Top content

Ads

Archives

March 2005
M T W T F S S
« Feb   Apr »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031