Sake teen Kommandolede teruggetrek

THABAZIMBI – In die opspraakwekkende verhoor van lede van Thabazimbi en Northam Kommando’s wat tereggestaan het op aanklagte van beweerde bedrog, wat met soldy van lede van hierdie twee eenhede verband hou, is die sake teen al die lede, voorlopig Vrydag, 18 Februarie, in die landdroshof op Thabazimbi teruggetrek.
Dit kom nadat die staat in die afgelope paar maande van intensiewe ondersoeke, nie daarin kon slaag om enige getuienis teen enige van die lede in te bring of enige formele klagte teen enige van die lede te lê nie.
Soos voorheen berig, is ‘n aantal lede van Thabazimbi en Northam Kommando’s gedurende Oktober 2004 deur lede van die Millitêre Polisie gearresteer op bogenoemde aanklagtes. Sommige van hierdie lede is verder ook oornag in die plaaslike polisieselle aangehou.
Borgtog is na intensiewe onderhandelinge vasgestel op R3 000 per persoon en hulle is gelas om op 13 Desember 2004 weer in die hof te verskyn. Die verhoordatum is egter op die datum uitgestel na 18 Januarie 2005, waartydens die sake teen al die lede teruggetrek is. Na wat berig word, word siviele aksies tans deur die betrokke lede oorweeg.
Luitenant-kolonel Herman Heine, Thabazimbi Kommando Bevelvoerder, meen dat dat die bogenoemde aksie moontlik polities geïnspireer kon wees ten einde die kommando’s te diskrimineer in hulle onderskeie gemeenskappe. “Dit staan in noue verband met die regering se planne om die totale kommandostelsel binne die volgende vyf jaar totaal uit te faseer. Daardeur gaan misdaad hoogty vier” het hy bygevoeg.
Die kommandostelsel vorm tans die ruggraat van die platteland se reaksie vermoë asook vir die SAPD se anti-misdaad optredes. Die SAPD gaan aan gebrek van hierdie struktuur nie in staat wees om misdaad effektief te bekamp nie.”Wat aanvanklik ook vermoed is, het vandeesweek aan die lig gekom nadat regsverteenwoordigers van die betrokke lede insae verkry het in die dossiere van die Millitêre Polisie. Die sake is geïnspireer deur lede van die onderskeie eenhede wat na verneem word, ontevrede was met sekere interne prosedures van toepassing in die betrokke eenhede en dit het gevolglik aanleiding gegee tot die heksejag op kommandolede” het luitenant-kolonel Heine gesê.
Volgens luitenant-kolonel Heine is intensiewe ondersoeke sedert Oktober verlede jaar deur die Millitêre Polisie in die betrokke twee eenhede uitgevoer en daar is verlede Vrydag getuig dat geen getuienis gelei kan word wat enige verband hou met die beweerde aanklagte nie. Hy sê die effektiwiteit van Thabazimbi Kommando se Administrasie afdeling is hierdeur bevestig nadat hierdie afdeling gedurende 2004 ‘n evaluasiepunt van 98% behaal het en in die Groep 14 Interkommandokompetisie as gesamentlike wenners met die Admin afdeling van Waterberg Kommando (Nylstroom) aangewys is.
Na wat berig word is ‘n noodfonds gestig vir lede wat geaffekteer is deur bogenoemde aksie ten tye die betrokke lede te ondersteun met betrekking tot regskostes. Luitenant-kolonel Heine sê die fonds sal ook in die toekoms gebruik word vir bystand van die gemeenskap in noodsituasies. Heine het bygevoeg dat die Thabazimbi Kommando erkenning gee aan die instansies en persone wat in die afgelope tyd die betrokke lede en eenheid bygestaan het.
Volgens luitenant-kolonel Heine het die impak van die aksies verrykende gevolge en verseker hy die betrokke geaffekteerdes en gemeenskap van die eenheid se voortgesette lojaliteit.
“‘n Effektiewe diens sal steeds aan die gemeenskap gelewer word ten einde te verseker dat veiligheid en stabiliteit in die gebied gehandhaaf word” het hy gesê.