Gru botsing eis geliefde inwoner

THABAZIMBI – ‘n Gru kop-aan-kop botsing net buite Notham, het Sondagmiddag, 20 Februarie, ongeveer 16:00, die lewe geëis van ‘n geliefde inwoner, Louwtjie Brink (58). Brink en sy vrou Joey, was oppad terug vanaf Westonaria toe die ongeluk ongeveer tien kilometer voor Northam plaasgevind het.
Na wat berig word, het ‘n minibus taxi ‘n bakkie verbygesteek en kop aan kop met die Brink egpaar se Mazda gebots. Die egpaar was in hul motorwrak vasgekeer en nooddienste het mnr Brink op die toneel behandel, waar hy egter oorlede is aan sy beserings.
Me Brink is na Rustenburg gehaas waar sy tans in die Provinsiale Hospitaal se intensiewe sorgeenheid is. Sy is aan ‘n respirator gekoppel en het gebreekte- ribbes en borsbeen, ernstige knieskuif besering, breke in beide bene, ‘n gebreekte sleutelbeen, inwendige besering en hoofbeserings opgedoen.
Louwtjie en sy gesin het in 1988 na Thabazimbi verhuis. Hy was die laaste byna sewe jaar werksaam by TC Mining Supplies. Die Brink egpaar is 30 Augustus 2003 in die huwelik bevestig. Na wat verneem word is dit me Joey Brink se derde man wat sy aan die dood afstaan.
Louwtjie se vorige vrou, Tienie, is ses jaar gelede aan kanker oorlede. Brink laat sy vrou, drie dogters, sewe kleinkinders en vier stiefkinders agter. Mnr Brink se begrafnis het gister, 24 Februarie, vanuit die AGS Kerk, Thabazimbi plaasgevind. Die diens is waargeneem deur pastoor Steven Enslin.