Laat waai met Afrikaans op die web

Laat waai met Afrikaans op die web
Goeie nuus vir skeppers van skerp digitale Afrikaans! Afrikaanse webwerwe sal voortaan ingeskryf kan word vir Pendoring en die Kopieskrywersforum (KSF) se Advertensie van die Seisoen-reklamewedstryd.
Die voorstel vir ‘n afsonderlike, elektroniese media kategorie is onlangs gemaak na afloop van ‘n spesiale slypskool wat spesifiek op Afrikaanse webwerwe gefokus het. Die slypskool is deur die organiseerders van Pendoring greël en deur Roelof van Wyk, vennoot en kunshoof van Trigger aangebied.
Te oordeel in die belangstelling na die slypskool en die geesdrif van die teenwoordigers, het Van Wyk voorgestel dat ‘n afsonderlike elektroniese kategorie as deel van die Advertensie van die Seisoen-wedstryd ingestel word.
Hy meen dat so ‘n platform ontwerpers sal aanmoedig om meer en beter in Afrikaans te skep. Dit sal hopenlik ook meer en beter Pendoring web-inskrywings stimuleer wat die standaard van die Afrikaanse web-bedryf in die algemeen sal ophef – om nie eens te praat van die erkenning van sulke toekennings nie, sê hy.
Die KSF het die voorstel vir ‘n elektroniese media-kategorie verlede week by sy eerste vergadering vir die jaar eenparig aanvaar – mits daar elke seisoen genoeg inskrywings is. ‘n Verdere voorstel om “point-of-sale” (POS) by die Advertensie van die Seisoen-wedstryd se buitelug kategorie in te sluit is ook aanvaar.
Die KSF het ook ‘n nuwe voorsitter verkies. Paul Brümmer van die agentskap Blue, neem vanjaar by Annette Nel van Net#work BBDO oor. Nel was die KSF se eerste voorsitter na die forum verlede jaar na jare van stilswye weer op die been gebring is.