Jukskei nuus

THABAZIMBI – Die Nyl Wyksbond se jaarvergadering het verlede Saterdag plaasgevind na afloop van die ligas op Makoppa. Die vergadering is deur die bestuur en twee afgevaardigdes van elke klub bygewoon, en het in ‘n goeie gees plaasgevind.
Die bestuur vir die nuwe seisoen is verkies en is as volg: Voorsitter – Evert Genis (Tarentale), onder voorsitter – Bossie Liebenberg (Thabazimbi) en sekretaris – Jan Kleynhans (Naboompark). Tony Keyter het die pos van sekretaris beklee vir ‘n aantal jare en is deur Evert bedank vir die werk wat hy gedoen het. Keyter het ook aangekondig dat Nylstroomklub ontbind as gevolg van die jukskeibane en geriewe wat ontbreek. Die huidige spelers sal inskakel by Naboompark, Olifante (Groblersdal) of Kromdraai.
Benoemings vir beste presteerders is die volgende: Senior mans – Bossie Liebenberg (Thabazimbi) en Sois van Zyl (Olifante), senior dames O/50 – Amanda Beeslaar (Tarentale), veterane mans – Evert Genis (Tarentale), senior dame bo 50 – Bettie Geldenhuys (Thabazimbi) en administratief – Bossie Liebenberg (Thabazimbi).
Verlede Saterdag, 12 Februarie, het die laaste liga van die seisoen op Mokopane plaasgevind en spanne van al ses die klubs het opgedaag. Die Tarentale klub het vir die verversings gesorg. In totaal was daar 16 spanne wat in die A, B en C afdelings meegeding het. Uitslae is as volg: A afdeling (ses spanne): Eerste Thabazimbi 1 met 43 punte, tweede Thabazimbi 2 met 40 punte en derde Tarentale 1 met 39.5 punte.
B afdeling (vyf spanne): Eerste Naboompark met 40 punte, tweede Olifante met 32.5 punte en derde Nylstroom met 29 punte. C afdeling (vyf spanne): eerste Tarentale 1 met 38 punte, tweede Tarentale 2 met 35.5 punte en derde Naboompark met 34.5 punte.
Martie Nell, skakelbeampte, kan gekontak word by (014) 733 0611 of 083 532 1960.